|

Kampusgeweld: AfriForum Jeug stel voorwaardes vir vrede by UP

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum Jeug het voorwaardes vir vrede rondom die taaldebat by die Universiteit van Pretoria (UP) gestel om toe te sien dat akademie so gou moontlik hervat word en dat Afrikaans erken, gerespekteer en beskerm sal word. Dit volg nadat dié universiteit tot stilstand gedwing is deur gewelddadige betogings deur die EFF om Afrikaans as onderrigtaal af te skaf.

AfriForum Jeug se voorwaardes sluit in dat die universiteit Afrikaans moet beskerm en verskans; die EFF se aanvalle op Afrikaanse studente stopgesit moet word; die universiteit nie langer gesluit kan bly nie; die Universiteit doeltreffende programme moet loods om alle verdienstelike arm studente met verblyf te ondersteun; dat daar ook genoegsame beurse moet bestaan om verdienstelike arm studente in staat te stel om te kan studeer en dat UP as ’n Afrikaanse, Sepedi en Engelse universiteit moet funksioneer.

Dié burgerregte-jeugorganisasie is van mening dat die implementering van dié voorwaardes weer kalmte en orde sal bring – veral nadat betogings, wat ook na kampusse regoor die land oorgespoel het, tot so ʼn mate handuit geruk het dat lede van AfriForum Jeug en ander studente op die hoofkampus aangerand is.

Na aanleiding hiervan het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Dinsdagmiddag dringend met prof. Cheryl de la Rey, rektor van UP, vergader om verskeie sake van belang, waaronder die spoedige voortsetting van die akademiese program by die universiteit, te bespreek.

“Die versekering is aan AfriForum gegee dat ʼn finale besluit oor Afrikaans as onderrigtaal nog nie geneem is nie.”

Kriel het voorts gesê dat prof. De la Rey onderneem het om ʼn vergadering tussen AfriForum en die universiteit se taal-taakspan te reël om aan AfriForum die geleentheid te bied om insette rakende UP se taalbeleid te maak voordat dit na die universiteitsraad vir besluitneming verwys word.

“AfriForum is ook nou ʼn rolspeler in die proses, waar die universiteit voorheen net die EFF tevrede wou stel en met hulle onderhandel het.”

Kriel het ook gesê dat meer mense tot die debat rondom taal moet toetree. “Dit is ‘n klein groepie radikale studente wat die universiteit se agenda dikteer. Ons wil vir die studente wat voel dat hulle stemme nie gehoor word nie, kans gee om deel te word van díe bebat.”

Kriel het verder verduidelik dat Engels nie oornag die voertaal van die universiteit kan word nie en dat verskeie prosesse eers moet plaasvind. “’n Oorleggingsproses moet eers plaasvind en die universiteitsraad moet ook enige veranderings aan die beleid goedkeur.”

Anna-Retha Bouwer Green, woordvoerder van UP, het aan Forum Nuus gesê dat dit deel van die taal-taakspan se werk is om gereelde terugvoer oor die proses te verskaf, maar dat daar geen verdere inligting tot dusver hieroor beskikbaar is nie.

 

Soortgelyke plasings