Kempton Park-buurtwag help om dwelmhuis te stuit


AfriForum se Kempton Park-buurtwag het op 6 Februarie 2018 bystand aan die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) se K9-eenheid gebied met die vastrek van ’n dwelmhandelaar in Kempton Park.
Dít volg nadat die buurtwag op 9 Januarie 2018 inligting van ’n inwoner ontvang het rakende ’n huis waar daar moontlik met dwelms gehandel word. Die buurtwag het die woning fyn dopgehou en die EMPD onmiddellik in kennis gestel toe hul vermoedens bevestig is.
Die EMPD se K9-eenheid het Dinsdagoggend vroeg ’n klopjag op die woning uitgevoer waartydens ’n verdagte in besit van dagga, kristalmetamfetamien (tik) en ander dwelms gevind is. Die verdagte is dadelik gearresteer en na die Norkem Park-polisiestasie geneem.

“Ons is dankbaar vir ’n gemeenskap wat waaksaam is, asook uitstekende optrede deur die EMPD en die K9-eenheid. ’n Gevestigde veiligheidsnetwerk is die sleutel tot die bekamping van misdaad,” sê Dirk Venter, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-buurtwag.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke. Jy kan help om jou omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings