Kempton Park-buurtwag spoor verdagte op wat geld verduister


AfriForum se Kempton Park-buurtwag het op 5 Oktober 2017 in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n verdagte gearresteer wat R17 000 by ’n motorhandelaar in Norkem Park verduister het.
Dít volg nadat ’n buurwaglid ’n oproep van ’n plaaslike motorhandelaar ontvang het wat na hulp op soek was om ’n verdagte op te spoor nadat ’n klagte teen dié individu by die Bramley-polisiestasie aanhangig gemaak is.
Die buurtwag het ingestem om in samewerking met die Bramley-polisiestasie bystand te verleen. Een van die buurtwaglede het in die teenwoordigheid van ’n speurder telefonies ’n ontmoeting met die verdagte in ’n winkelsentrum in Norkem Park gereël. Na afloop van die ontmoeting het die verdagte in haar voertuig geklim en weggery. Sy is egter deur die SAPD agtervolg, waarna hulle haar gestop en ondervra het.
Die verdagte het gesê dat ’n foto van haar eintlik haar tweelingsuster is, waarna ’n buurtwaglid haar selfnommer geskakel het. Die verdagte se selfoon het begin lui en sy het erken dat sy wel die verdagte is waarna die SAPD op soek is. Sy is gevolglik in hegtenis geneem en na die Bramley-polisiestasie geneem.

“Dit is verblydend om te sien hoe die SAPD op AfriForum se knoppie kan druk in die voortdurende stryd om misdaad te bekamp,” sê Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-buurtwag.

Raak by AfriForum se Kempton Park-buurtwag betrokke en help sodoende om jou omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings