|

Kempton Park-tak help gemeenskap om verantwoordelikheid te neem vir Janina Village

Die AfriForum-tak in Kempton Park het op 27 April die organisasie se heel eerste #mywoonbuurt-projek in die land geloods. Daar is herstelwerk en instandhouding gedoen aan die munisipale infrastruktuur in Janina Village, ’n afgebakende area in Kempton Park.

Die tak en die gemeenskapslede het 33 slaggate herstel, twee spoedhobbels oorgeverf, drie ingangshekke opgeknap, drie bome gesnoei, een stormwaterdrein skoongemaak, en vier padtekens vervang. Altesaam 38 sakkies teer en 75 liter padverf is gebruik vir die opknapping en herstelwerk. AfriForum se #mywoonbuurt-projek is daarop gemik om eienaarskap van ’n spesifieke woonbuurt of residensiële area te neem en onafhanklikheid van die munisipaliteit teweeg te bring.

“Ons kan nie meer op ons munisipaliteite staatmaak om ons woonbuurte in stand te hou en te verbeter nie. Dit is daarom krities dat gemeenskappe self eienaarskap neem vir hul eie areas. Die #mywoonbuurt-model skep die perfekte voertuig vir gemeenskappe om self verantwoordelikheid te neem vir hul infrastruktuur en veiligheid. Dit was baie bemoedigend om te sien hoeveel gemeenskapslede opgedaag het om hand by te sit by hierdie spesifieke projek,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Die inwoners van Janina Village het ons as AfriForum-tak genader om hulle te help met die nodige werk in hul woonbuurt. Ons het nou saam met hulle gewerk aan die nodige kwessies. Dit was baie indrukwekkend om te sien hoeveel mense in die koue en op ’n vakansiedag opgedaag het om te werk. Ek is vol vertroue dat die gemeenskap nou sal kan voortgaan om op hul eie die woonbuurt op ’n volhoubare wyse te onderhou,” sê Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak.

Stuur ’n e-pos na voorsitter.kemptonpark@afriforumtak.co.za om vandag nog by hierdie AfriForum-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings