|

Kenners spreek kommer uit oor invloed van transformasie-ideologie in Konstitusionele Hof-uitsprake

Eerder as om die Grondwet te beskerm en verdedig, wat een van die Konstitusionele Hof se belangrikste verantwoordelikhede is, het hy ’n manier gevind om die Grondwet te ondermyn.

Só meen John Kane-Berman, beleidsgenoot en voormalige uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), wat ʼn evaluering gedoen het oor die mate waarin die politieke ideologie van die regerende party en transformasie neerslag vind in die uitsprake van die Konstitusionele Hof.

Sy verslag getiteld Transformation and the Constitutional Court is vandeesweek tydens AfriForum se konferensie oor transformasie en ideologie in die Konstitusionele Hof, voorgelê.

Die verslag handel oor verskeie toonaangewende uitsprake van die Konstitusionele Hof en sluit die volgende sake in:

  • SAPD versus Solidariteit namens Renate Barnard (regstellende aksie);
  • AgriSA versus Minister van Minerale en Energie (eiendomsreg);
  • Fedsas versus Panyaza Lesufi (onderwys);
  • Solidariteit versus Departement Korrektiewe Dienste (regstellende aksie);
  • Stad Tshwane Metropool-munisipaliteit versus AfriForum (kultuurregte); en
  • Universiteit van die Vrystaat versus AfriForum (taalregte).

Volgens Kane-Berman wil dit in baie van dié sake se uitsprake voorkom of die Konstitusionele Hof die noodsaaklikheid van transformasie as die hoogste reg ag.

Hy is van mening dat hoofstroommedia een van die land se grootste probleme is en dat organisasies soos AfriForum en die IRV se eie-mediaplatforms en webtuistes ’n toenemende belangrike rol gaan speel om die Konstitusionele Hof se partydigheid te ontbloot.

“Ons moet aanhou om mense in te lig en hul gereeld daaraan herinner dat hulle ’n impak kan hê.”

Ander sprekers wat by die konferensie opgetree het, is prof. Koos Malan, verbonde aan die departement publiekreg aan die Universiteit van Pretoria (UP), Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, dr. Theuns Eloff, uitvoerende hoof van die F.W. de Klerk-stigting, asook adv. Gretha Engelbrecht.

Malan het gesê die Konstitusionele Hof het ’n kritiese politieke rolspeler vir transformasie-ideologieë geword en dat dit gereeld in hofsake afgedwing word. “Jy kan ’n ‘goeie uitspraak’ van die hof verwag indien transformasie-ideologieë nie ter sprake is in die saak nie.”

Hy het verskeie voorbeelde uitgelig waar hy meen transformasie-ideologieë die hof se uitspraak en veroordeling beïnvloed het, soos AfriForum se saak teen die Universiteit van die Vrystaat (UV) rakende hul taalbeleid.

“’n Regter is nie veronderstel om soos Mogoeng Mogoeng sy onpartydigheid vooraf te verklaar oor ’n saak nie. Dit is vanselfsprekend dat hy áltyd onpartydig moet wees. Verder moet ’n regter nie aantygings, wat nie deur konkrete feite gestaaf kan word, bloot aanvaar nie, soos in die geval van die UV-saak toe aanvaar is dat verdeeldheid en rassespanning deur Afrikaans as onderrigtaal veroorsaak word. Jy kan slegs uitspraak lewer op grond van feite en  nie aantygings nie.”

Engelbrecht, wat betrokke was by die sake van AgriSA, Renate Barnard, die departement korrektiewe dienste en die UV-taalbeleid, meen die probleem lê nie by die beginsels van die uitsprake nie, maar eerder by die uitkomste daarvan en die invloede wat dit op mense het.

Sy is ook van mening dat die hof meer ontvanklik sou wees indien ’n ander applikant die UV-saak gebring het. “Die identiteit van die applikant maak in die Konstitusionele Hof saak. Dit is nie veronderstel om ’n invloed te hê nie, maar ek glo dit het.”

Eloff het op sy beurt gesê dat die Konstitusionele Hof, soos die ANC-regering, dikwels poog om alles rasverwant te maak. “Ek weier om slegs ’n ‘wit persoon’ te wees. Ek is baie meer as net my ras.”

Volgens Eloff verander ideologieë soos transformasie mense se persepsie van die realiteit. “Die ANC het dit reggekry om transformasie tot op só ’n vlak te populariseer dat om daarteen te wees, amper is om soos teen die konsep van vakansie te wees. Dít alles omdat hulle misluk om werklike verandering in die land teweeg te bring.”

Buys het sy kommer uitgespreek oor die feit dat die Grondwet, wat deur baie as ’n sterk pro-vryheidsgrondwet beskou word, toenemend deur die Konstitusionele Hof vertolk word as een waarvolgens uitvoering gegee moet word aan gelykheid van uitkomste, wat in teenstelling met vryheid staan.

Lees John Kane-Berman se volledige verslag hier: http://bit.ly/2NtzPP1

Soortgelyke plasings