|

Kerkplein kry ʼn nuwe baadjie

Die burgerregte-organisasie verwelkom die gedaanteverwisseling wat Kerkplein in Pretoria in die volgende nege maande sal ondergaan.

Dié projek, wat Maandag 23 Januarie amptelik afgeskop het, sal volgens Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, tot die skoonheid en vernuwing van die middestad bydra. “Die plein sal geheel en al anders lyk met bome, waaronder ook Jakarandas, opgeknapte grasperke en straatbankies wat by die moderne tuinuitleg sal pas.”

Volgens Mashigo sal die opknappingswerk tot gevolg hê dat sekere strate vir motoriste en voetgangers gesluit moet word. Sekere parkeerplekke sal ook vir dié tydperk gesluit wees en ’n deel van Paul Krugerstraat sal slegs deur die stad se snelbusdiens en nooddiensvoertuie gebruik word.

Paul Kruger se standbeeld sal egter onveranderd en ongehinderd op sy voetstuk bly.

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, het vroeër in ’n onderhoud by AfriForum oor Kruger se standbeeld gesê dat die verlede nie uitgewis sal word indien die standbeeld geskuif word nie.

“In plaas van om iemand se geskiedenis uit te wis, moet dit eerder volledig vertel word. Dit is nodig dat al die kante van die geskiedenis vertel word. Wat my betref moet ons begin praat oor die geskiedenis en ook of dit nodig is dat ander standbeelde langs Kruger geplaas word,” meen hy.

Lamé Ebersöhn, uitvoerende bestuurder van Café Riche, wat langs Kerkplein geleë is, het aan Forum Nuus gesê dat dié projek meer voete vir die middestad kan beteken indien dit reg bemark word.

“Toeriste kom na die kern van ’n stad. As dit bemark word, kom kyk, verwyl en luier mense.”

Sy sê voorts dat ander aspekte soos sekuriteit ook in geneem moet word en dat toiletgeriewe ook opgeknap en toeganklik moet wees. Sy is ook van mening dat duidelike grafiese aanwysingsborde meeste verkeersprobleme kan uitstryk en dat sosiale media optimaal benut moet word om die publiek op hoogte te hou van alternatiewe roetes.

“Meer voete is altyd goed vir enige sakeonderneming, maar vrye toegang tot die bistro is uiters noodsaaklik. Gaste wil nie sukkel om by jou uit te kom nie.”

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is dit goed dat die plein opgeknap sal word en meer toegangklik vir voetgangers en toeriste kan wees.

“Kerkplein is een van die mooiste stadskerne met die rykste geskiedenis in die land. Dit is goed dat die plein, asook die omliggende strate, uiteindelik opgeknap en bewaar sal word.”

Soortgelyke plasings