|

Kimberley-tak maak ’n verskil in #VegEnBou-week

Die AfriForum-tak in Kimberley het tydens die organisasie se #VegEnBou-week onder meer hul harte oopgemaak teenoor die plaaslike mediese personeel en ’n kranslegging by die Konsentrasiekampmonument gehou.

Die tak het die #VegEnBou-week op 12 Mei egter eers begin met ’n geslaagde veiligheidsvergadering om inligting en reëlings oor AfriForum se Kimberley-buurtwag aan inwoners bekend te stel. Ongeveer 15 mense het die vergadering bygewoon.


Mark Kuys, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek, het oor die veiligheidsituasie in die land gepraat. Henko Visser, die voorsitter van die Kimberley-tak, het na afloop van die vergadering met die lede gesels oor die behoeftes vir ’n aktiewe buurtwag. Die vergadering is op ’n gesellige wyse met ’n braai afgesluit, wat inwoners die geleentheid gegee het om mekaar op ’n informele wyse te leer ken.


Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, bedank die lede wat die geleentheid bygewoon en hulself beskikbaar gestel het om deel te word van die buurtwag. Die feit dat hulle vrywilligers is wat geen vergoeding ontvang nie, maak hul diens aan die publiek soveel meer merkwaardig, voer Van der Linden aan.

“Alhoewel ons baie dankbaar is vir die bywoning, doen ons ’n beroep op elke inwoner om by die buurtwag betrokke te raak. Hoe meer ons is wat saamstaan, hoe beter kan ons na ons veiligheid omsien. Mense wat nie meer patrollie kan ry nie, kan op baie ander maniere bystand bied – ons het regtig elke inwoner se bydrae nodig,” sê Van der Linden.

Die Kimberley-tak het die volgende dag (13 Mei) hul waardering vir die mediese personeel in dié stad gewys.

Die tak het die personeel in die intersiewesorgeenheid van die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, die Lenmed Royal-hospitaal-en-hartsentrum en die Mediclinic Gariep met middagete bederf.

“Hierdie aksie het die tak die geleentheid gebied om aan die gemeenskap terug te gee. Elke hospitaal wat ons besoek het, het groot waardering teenoor die tak uitgespreek vir die pizza en koekies,” sê Ben Benade en Joey Schoeman, bestuurslede van die Kimberley-tak.

Van der Linden bedank ook die mediese personeel vir die onbaatsigtige werk wat hulle verrig, veral onder die ongekende omstandighede die afgelope twee jaar.

Die tak het ter afsluiting van die #VegEnBou-week op 14 Mei ’n kranslegging by die Konsentrasiekampmonument in Kimberley gehou in samewerking met die Rapportryerbeweging, die Rocco Knobel Voortrekkerkommando en die Hoërskool Adamantia se landsdiensleerders. Die kranslegging is gehou ter nagedagtenis aan Anna Catharina Jacobs en Dorothea Margaretha Nel, en die 529 ander slagoffers wat in die Tweede Anglo-Boereoorlog in dié konsentrasiekamp gesterf het.

“AfriForum se Kimberley-tak het in samewerking met ander organisasies onderneem om die monument netjies en in stand te hou. Dis belangrik dat ons onthou waar ons vandaan kom en wat die prys vir ons vryheid was,” sê Van der Linden.

Tydens die kranslegging is daar ook ’n bord onthul wat lees: “Hierdie monument ter nagedagtenis aan die mans, vrouens en kinders wie in die Kimberley-konsentrasiekamp gesterf het, word beveilig en onderhou deur AfriForum se Kimberley-tak, die Rapportryerbeweging, die Voortrekkers en Landsdiens.”

SMS “Kimberley” na 45351 (R1) om by AfriForum aan te sluit.

Soortgelyke plasings