|

Kinderharte en handjies bring water vir mense in nood

 

Die nood in Suid-Afrika in dorpe en stedelike gebiede waar talle mense nie drink- of lopende water het nie, het selfs tot die harte van kleuters begin deurdring.

Die Kleutergenot Kleuterskool in Rietvalleirand in die ooste van Pretoria het vandag in samewerking met AfriForum meer as 7 000 liter water ingesamel wat aan inwoners in Smithfield in die Vrystaat gestuur sal word.

Dit is deel van AfriForum se omvattende droogtehulp-projek om boere en gemeenskappe in nood by te staan. Meer as R200 000 is reeds ingesamel om boere te help.

Die selfoonmaatskappy Cell C is ook betrokke om water in te samel wat na ander dorpe soos Winburg, Reddersburg, Brandfort, Oudtshoorn, Prins Albert en Malmesbury versprei sal word.

Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum, het gesê hierdie is ’n mooi voorbeeld van hoe mense kan hande vat om gemeenskappe in nood by te staan. “Ons hoop dat dit meer Suid-Afrikaners sal aangryp sodat ons ’n nog groter verskil kan maak.”

Sophia Theunissen, onderwyseres by Kleutergenot, het gesê “ons is ’n omgee-skool en het besluit om AfriForum te ondersteun”.

 

Die onderwysers by die skool het aan die sowat 400 kleingoed verduidelik wat die waternood beteken en hoe hulle ’n verskil kan maak.

“Hulle het spontaan en opgewonde gereageer en die water het behoorlik van die huise af begin instroom. Hierdie is vir ons ’n projek uit die hand van die Here. Die kinders besef werklik waaroor dit gaan en bid elke dag vir maatjies soos hulle wat nie kan bad of water het om te drink nie.”

Kleutergenot Kleuterskool dra water aan.
Kleutergenot Kleuterskool dra water aan.

Theunissen meen dit het ook die skool se ouergemeenskap saamgebind wat uit hul pad gegaan het om ook by hul werkplekke water in te samel.

Lede van die publiek wat die droogtehulp-projek wil ondersteun, kan hul name na 38312 SMS om R10 te skenk. AfriForum verdubbel elke bydrae op ’n rand-tot-rand-basis.

Verskeie ander organisasies soos TLU SA, Solidariteit en Helpende Hand is ook met projekte besig om die droogtekrisis te help verlig.

Soortgelyke plasings