Klagte teen Malema: SAPD bevestig oorhandiging van dossier aan NVG


AfriForum het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Mdantsane in die Oos-Kaap skriftelik versoek om te verduidelik waarom die SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) mekaar weerspreek in terugvoer oor AfriForum se klagte teen Julius Malema.
Op 28 September 2018 is AfriForum deur die SAPD verwittig dat die dossier wat met dié saak verband hou vir oorweging na die NVG se departement van openbare vervolging in Oos-Londen gestuur is. Dit het egter deur middel van ’n News24-berig onder AfriForum se aandag gekom dat die dossier nog nie deur die NVG ontvang is nie, aldus Tshepo Ndwalaza, woordvoerder van die NVG in die Oos-Kaap.
AfriForum het die klagte teen Malema aanhangig gemaak nadat hy op die EFF se vyfjaar­feesvieringe vroeër vanjaar klaarblyklik skote afgevuur het uit ’n voorwerp wat soos ’n aanvalsgeweer lyk. Die EFF se woordvoerders het ontken dat dié voorwerp ’n regte vuurwapen was en het later beweer dat dit glo klappers was wat in tyd met die voorwerp afgegaan het.

“AfriForum sal voortgaan om die ondersoek teen Malema met ’n valkoog dop te hou en sal alles van die organisasie se kant af doen om seker te maak dat die instansies wat met die ondersoek getaak is hul werk na behore uitvoer,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
“Indien die NVG besluit dat Malema nie vervolg moet word nie, staan AfriForum se privaatvervolgingseenheid gereed om alle hulpbronne tot AfriForum se beskikking aan te wend om seker te maak dat Malema wel hiervoor vervolg word,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings