|

KLAGTE TEEN PA OOR FORMULEMELK LAAT VAAR NÁ INGRYPING DEUR AFRIFORUM

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Dit blyk toenemend dat sekere wetstoepassers die inperkingsregulasies misbruik om gewone, wetsgehoorsame burgers te boelie eerder as om hul op die bekamping van ernstige misdaad toe te spits.

Só sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, oor die polisie se onlangse optrede teen Naas le Roux, die man wat op 7 Januarie vanjaar gearresteer is omdat hy glo die aandklokreël oortree het. Le Roux moes egter dringend formulemelk vir sy pasgebore baba gaan koop.

Le Roux sou vanoggend in die landdroshof in Pretoria moes verskyn, maar die klagtes teen hom is egter laat vaar, het Kriel op ’n mediakonferensie verduidelik.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak gehad en het verlede week vertoë aan die aanklaer gerig oor waarom Le Roux nie vervolg moet word nie.

Le Roux se regsverteenwoordiger, Lily Rautenbach, het aangedui dat hy met ’n siviele eis teen die polisie voortgaan en dat meer besonderhede later hieroor bekend gemaak sal word.

Le Roux is gearresteer toe hy op 7 Januarie omstreeks 01:00 formulemelk vir sy dagoue, honger baba by die Clicks-apteek in Unitas-hospitaal gaan koop het omdat sy vrou, Natasha, borsvoedingprobleme ervaar het.

Op pad terug na sy huis toe het twee SAPD-konstabels hom sowat 250 m van sy huis af afgetrek, maar geweier om na rede te luister of begrip te toon dat hy die aandklokreël weens ’n noodgeval moes verbreek. Hy het ook die betalingstrokie aan hulle gewys.

Volgens Le Roux was die beamptes baie aggressief en het hulle hom verskeie kere beledig en verbaal geïntimideer. Een van die beamptes het ook gepoog om Le Roux se motorsleutels uit sy kar te pluk en pogings aangewend om hom te verhoed om opnames van die gesprek te maak. Hy is egter toegelaat om sy vrou te bel, wat die sowat 250 m na die kar met haar pasgebore baba moes stap om die formulemelk te kry.

In dié opname, wat tydens die konferensie gespeel is, kan gesien word hoe Natasha die polisie huilend smeek om haar man te laat gaan. Hierna het een van die polisiebeamptes vir haar gevra of sy kan bestuur waarna sy met hul pasgebore baba op haar skoot huis toe moes ry terwyl die beamptes haar man in hegtenis neem en in die vangwa laai.

Die beamptes het vir haar gesê dat sy agter hulle kan aanry tot by die Wierdabrug-polisiekantoor en haar man se borg daar kan betaal. Sy het egter hul babadogtertjie huis toe gevat en gevoer en daarna na die polisiestasie gegaan. Die adjudant-offisier by die stasie het egter aan haar gesê dat sy dadelik weer moes ry, anders sou hy haar ook arresteer.

Le Roux se vrou is huis toe en het regshulp by Rautenbach bekom wat daarin kon slaag om sy vrylating die volgende oggend 11:00 te bewerkstellig.

Kriel sê die polisie kan nie toegelaat word om wetsgehoorsame burgers soos misdadigers te behandel nie. “Hier was duidelik ’n noodgeval en die polisiebeamptes se gebrek aan insig en empatie om die regulasies op ’n redelike wyse af te dwing, is werklik skokkend.”

Hy het benadruk dat die burgerregte-organisasie die COVID-pandemie ernstig opneem en sy lede aanmoedig om die inperkingsregulasies te gehoorsaam. “Dit beteken egter nie dat wetstoepassers hul mag moet misbruik nie. As landsburgers betaal ons belasting en is ons ‘kliënte’ van die staat en nie die onderdane van diktators nie.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die optrede van die polisie in dié voorval is tekenend van ’n gebrek aan opleiding, asook ’n versuim om te verstaan wat die werklike doel van die inperkingsregulasies is.

Volgens Nel hoef ’n mens nie ’n regskenner te wees om te sien dat daar geen meriete vir Le Roux se arrestasie was nie. “Die doel van die regulasies is nie om soos polisieminister Bheki Cele meer as 7 000 mense met kriminele rekords te belas omdat hulle nie maskers dra nie, maar om die las op hospitale te verlig deur te verhoed dat die virus versprei.”

Le Roux het aan Forum Nuus gesê hy het alle vertroue in die polisie verloor. “Ek weet dat daar goeie beamptes is, maar dit is moeilik om nou die polisie in ’n positiewe lig te sien. Elke keer as ek nou ’n polisieman sien, wonder ek of hulle my ook só gaan behandel?”

Die veiligheidsgroep Centurion Concerned Citizens (CCC) het ook ’n griewebrief oor Le Roux se arrestasie aan die provinsiale polisiekommissaris gestuur en die drukgroep Action Society het geëis dat daar teen die betrokke polisielede opgetree word. Volgens die CCC was daar al verskeie klagtes vanuit die gemeenskap oor die Wierdabrug-polisiekantoor. Inwoners voel dat hulle nie meer lede van dié stasie kan vertrou nie.

AfriForum het in 2020 sukses in soortgelyke sake in Dwarskersbos en Ballito behaal waar mense tydens die inperking deurgeloop het weens wetstoepassers se magsmisbruik.

Soortgelyke plasings