Klerksdorp-vullisterrein nie op standaard; Potchefstroom stel voorbeeld


Die burgerregte-waghond AfriForum het op 13 Oktober 2017 die vullisterrein in Klerksdorp geoudit en bevind dat dit nie net ondoeltreffend bestuur word nie, maar ook nie aan nasionale standaarde voldoen nie. Potchefstroom (die Felophepa-vullisterrein) het egter – soos verlede jaar – baie goed gevaar en die ouditvereistes met 90% geslaag. Dié nasionale oudit vorm deel van ’n jaarlikse veldtog waartydens vullisterreine in dorpe waar AfriForum-takke gevestig is aan die hand van 25 vrae gemeet word.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit onder meer faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan hierdie wetgewing te voldoen. Potchefstroom se vullisterrein het aan meeste van die vereistes voldoen, maar daar is egter bevind dat diereoorskot onwettig daar gestort word en dit het die terrein punte gekos.

“Klerksdorp se vullisterrein het slegs 44% behaal. Die terrein beskik nie oor ’n afvalbestuurslisensie nie, voldoende omheining ontbreek en persone woon selfs op die terrein, reg langs die vullis, wat ’n groot gesondheidsrisiko inhou. Daar is wel ’n mate van toegangsbeheer en ’n weegbrug, maar dit is ongelukkig die omvang van die beheer op dié terrein. Boonop word onwettige vullis ook hier toegelaat,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraalstreek.

AfriForum se Klerksdorp-tak sal ’n skrywe aan die Stad Matlosana Plaaslike Munisipaliteit rig wat sowel die ouditverslag sal insluit as ’n dringende versoek dat die munisipaliteit moet optree voordat verdere agteruitgang plaasvind.
Ander vullisterreine wat in hierdie provinsie geoudit is, het soos volg gevaar:
Beste Prestasie – Potchefstroom met 90%
Slegste prestasie – Bloemhof/Christiana met 2% en Ottosdal/Sannieshof met 2%
AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine wat te kort skiet tot op standaard gebring word.

Soortgelyke plasings