Klopjag in Edenvale werp vrugte af


Die AfriForum-buurtwag in Edenvale het op 19 Februarie 2018 – in samewerking met Top Security, Mamba Special Ops, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), die Genesis K9-eenheid en die 24/7 Security K9-eenheid – die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) gehelp om twee vermeende dwelmhandelaars tydens ’n klopjag vas te trek.
Die EMPD het inligting vanuit die gemeenskap ontvang dat daar waarskynlik dwelms en dwelmhandelaars in twee geboue in Edenvale is en het, tesame met die sekuriteitsmaatskappye, die geboue gevolglik omstreeks 4:00 binnegedring, terwyl AfriForum se buurtwagspan en die ander rolspelers verskeie uitgangspaaie versper het.
Tydens dié klopjag is daar op 14 sakkies kokaïen en twee sakke dagga, met ’n gesamentlike waarde van R4 500, beslag gelê. Twee arrestasies is ook gemaak.

“Die Edenvale-buurtwag sal voortdurend bystand aan die EMPD bied en, in samewerking met ander veiligheidsinstansies, voortgaan om misdaad hok te slaan en veiligheid te bevorder,” sê Derelle Steyn, voorsitter van AfriForum se Edenvale-buurtwag.
“Die buurtwag wil ’n gunstige verskil in ons gemeenskap maak, maar ons is net so sterk soos ons ledetal. Ons doen daarom ’n beroep op die Edenvale-gemeenskap om by die AfriForum-tak betrokke te raak. Lede van die publiek kan ook ons noodnommer (083 432 1828) in geval van nood of vir verdere inligting skakel,” sluit Steyn af.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Edenvale” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings