Knysna-slagoffers: AfriForum en Solidariteit Helpende Hand fokus op langtermynbehoeftes


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag op versoek van die diensorganisasie Solidariteit Helpende Hand verskeie benodighede vir slagoffers van die brandgeteisterde Knysna-gemeenskap aangekoop, waaronder gasstowe, gasbottels, potte, panne en opskeplepels.
Dié benodighede is uit AfriForum se noodfonds aangekoop en sal strategies deur Helpende Hand versprei word ná afloop van ’n behoefte-assesseringsproses.

“AfriForum voel sterk daaroor dat dié fonds op ’n volhoubare en doeltreffende wyse aangewend moet word. Daarom het ons eerder besluit om alledaagse goedere aan te koop wat die gemeenskap daagliks kan gebruik – nie net nou nie, maar ook in die lang termyn,” sê Guido Urlings, veldtogkoördineerder by AfriForum.

Helpende Hand se assesseringspan het ná afloop van die brande behoeftebepalings by kerke en skole gedoen.

“Dringende behoeftes is reeds aangespreek, maar die gemeenskap gaan in die lang termyn ondersteuning benodig. Ons raad aan die publiek is om oordeelkundig te skenk. Daar is op die oomblik ’n oorvloed van voedsel en klere, soveel so dat die provinsiale regering gevra het dat skenkings vir eers op die strukturele herbou van Knysna moet fokus,” sê Ernst Vorster, hoof van kommunikasie by Helpende Hand.

Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap, sê dat dit AfriForum en Helpende Hand se prioriteit is om toe te sien dat skenkings volhoubaar is en aan diegene versprei word wat dit die nodigste het.
Lede van AfriForum se trauma-eenheid, onder leiding van Nantes Kelder, is tans besig om berading aan slagoffers in en rondom Knysna te bied.

Soortgelyke plasings