|

Kom doen jou Kersinkopies by die Doornkloof-gemeenskapsmark

Of ’n mens nou van heerlike eetgoed hou of wil ontspan met lekker musiek, moenie die gemeenskapskersmark op 26 November by die NG Kerk Doornkloof misloop nie.

“AfriForum is een van die borge van die gemeenskapsmark en is ’n voorstander van sterk, selfstandige gemeenskappe. Die COVID-19-inperking het nie net ’n groot rol gespeel in mense se sosiale welstand nie, maar dit het ook ’n geweldige impak gehad op die ekonomie met ’n werkloosheidsyfer wat reeds baie hoog is,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Hierdie markte vorm deel van ons selfbestuurstrategie sodat gemeenskappe nie meer op die regering hoef staat te maak nie. Daar is individue en leiers in ons gemeenskappe wat die nodige kennis en vaardighede het om self ’n verskil te maak. Hierdie vermoë om selfstandig ’n toekoms te bou, bied hoop.”

Driné de Bruyn, van Time2Thrive en organiseerder van die mark, het verlede jaar die nood in haar gemeenskap raakgesien en ’n mark by haar huis aangebied. Daar was soveel mense wat opgedaag het dat sy besef het meer spasie sal vir die volgende mark nodig wees. Hierna het markte by die Doxa Deo-gemeente in Raslouw en by die Voortrekkermonument (VTM) gevolg waar duisende mense opgedaag het.

“Die vorige markte was in die weste van Centurion en verder noord by die VTM so dis gepas dat ons die keer na die ooste van Centurion skuif,” sê De Bruyn. “As ’n mens lyne tussen die punte sou trek vorm dit ’n kruis met die Monument wat as baken van hoop dien.”

Die gemeenskapsmarkte is nie net ’n lekker geleentheid vir gesinne en vriende om bietjie uit te kom nie, maar bied ook aan ’n klomp mense die geleentheid om ’n inkomste te genereer. Dit was juis die doel van die eerste mark om mense wat in die uitdagende COVID-tyd hul inkomste verloor het ’n kans te gee om die pot aan die kook te hou.

Besoekers wat al een van die vorige markte bygewoon het, sal goed weet van al die lekkernye, handgemaakte items en allerlei ander goed wat te koop aangebied word. Maar hierdie keer is die mark immers gemik op die Kerstyd en dus sal daar ook saam Kersliedjies gesing word. Die finale aantal stalletjies moet nog bevestig word, maar dit behoort tussen 60 en 80 te wees. Hekke open reeds om 15:00 en die mark sal om 20:00 klaarmaak. Toegang is gratis. Forum Sekuriteit en AfriForum se buurtwagte sal ook aan diens wees om seker te maak besoekers en hul besittings bly veilig.

Soortgelyke plasings