|

Kom luister in Centurion waarom jy die NGV moet beveg

Terwyl die ANC-regering met openbare verhore landwyd voortgaan om landsburgers ’n rat voor die oë oor sy nasionale gesondheidsversekering (NGV) te draai, lig AfriForum die publiek en sy lede oor die ware toedrag van sake in.

’n Vergadering word môreaand (28 Januarie) om 18:30 by Leriba Lodge in Centurion gehou waar verteenwoordigers van AfriForum belangrike vrae oor die NGV sal beantwoord.

Natasha Venter, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê die burgerregte-organisasie is gerat om ’n vernietigende beleid soos die NGV behoorlik teen te staan. “AfriForum se hoofverantwoordelikheid is teenoor sy lede wat dus beteken dat dit belangrik is dat ons ’n sterk fokus plaas op teenstand teen ’n beleid wat al ons lede en die breë gemeenskap uiters negatief gaan beïnvloed. Die kwessie van belemmerde of selfs geen toegang tot gesondheidsorg, wat die NGV gaan veroorsaak, is ’n kern kwessie as dit kom by burgerregte.

“Die NGV gaan nie slegs miljoene Suid-Afrikaners se toegang tot mediese sorg belemmer nie, dit het ook die potensiaal om die land se ekonomie totaal te knak – ’n krisis wat ’n drastiese impak op elkeen in die land se lewe gaan hê,” sê Venter.

AfriForum het reeds die NGV teengestaan deur:

  • die indiening van twee verslae teen die NGV by die parlement,
  • die opstel van omvattende kommentaar oor die impak en gevolge van die NGV;
  • deurlopende kritiek in die media oor die NGV in die vorm van mediabergite en opiniestukke, en
  • ’n skrywe aan ’n Amerikaanse nie-regeringsorganisasie, wat vir president Cyril Ramaphosa ’n prys vir die NGV gegee het, om te versoek dat die prys teruggetrek word.

AfriForum het ook vroeër openbare verhore in Mpumalanga, die Noord-Kaap, Limpopo, KZN en die Oos-Kaap bygewoon om aan die portefeulje-komitee te verduidelik waarom die organisasie teen die NGV gekant is.

Volgens Venter het AfriForum ook aan die einde van 2019 in al nege provinsies strafregtelike klagtes teen die provinsiale gesondheidsdepartemente ingedien, omdat al hierdie departemente astronomiese hoë bedrae wanbestee het. “Ons wil hiermee wys dat die NGV nie gaan werk nie, omdat die departemente soveel geld mors, asook dat die regering nie met nog van ons belastinggeld vertrou kan word nie.

“AfriForum het verder ’n spreekbeurt in die parlement wanneer die NGV-wetsontwerp na verwagting in Mei vanjaar ter tafel gelê word.

AfriForum doen ’n beroep op sy lede en die publiek om die openbare verhore by te woon en kapsie teen die voorgestelde NGV te maak. “As die lang toue en ongerief van die openbare verhore jou afskrik, dink net aan die ellelange rye en uiterste ongemak wat in die toekoms op jou wag as die NGV ’n werklikheid word,” sê Venter.

Intussen het John Steenhuisen, leier van die DA, en ’n afvaardiging vandag die berugte Kempton Park Hospitaal (sien foto) besoek wat in 1978 gebou en in 1996 deur die ANC gesluit is.

Hy het gesê die onlangse geskiedenis bewys regeringsbeheer lei tot meer korrupsie en wanbestuur. “Dié seweverdieping-gebou is ’n monument vir elkeen om te sien wat met gesondheidsorg onder die ANC gebeur.”

Die hospitaal het vir meer as 23 jaar verlate gestaan en sedertdien het die druk op omliggende hospitale soos die Tembisa-hospitaal toegeneem waar die situasie benard is en 10 babas onlangs weens infeksie dood is.

Volgens Steenhuisen is dit duidelik dat die ANC nie aan die gesondheidsorgbehoeftes van landsburgers kan voldoen nie. “En as jy wil weet waarom die NGV ’n aaklige gedagte is, hoef jy maar net hier rond te kyk om te sien hoe die ANC gesondheidsorg bestuur.”

Die eerste openbare verhore is vandeesweek in die Vrystaat. Dit word vanmiddag van 16:30 – 20:30 by die Kagisanong gemeenskapsaal in Rocklands, Mangaung, gehou en Woensdag om dieselfde tyd in die Harry Gwala-sentrum in Zamdela, Sasolburg.

Soortgelyke plasings