UP kom nie hul onderneming na met Engelse taalbeleid


AfriForum Jeug veroordeel ten sterkste die aankondiging van Tawana Kupe, die nuut aangestelde visekanselier van die Universiteit van Pretoria (UP) van 21 Januarie 2019 waarin hy noem dat die universiteit van vanjaar af slegs in Engels sal funksioneer. Volgens AfriForum Jeug is dit ’n skending van die universiteit se onderneming teenoor reeds ingeskrewe studente wat hul kwalifikasies in Afrikaans wou voltooi.
Volgens Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusse, was die universiteit nie eerlik ten tye van die verandering van die taalbeleid en die daaropvolgende hofsaak tussen die UP en AfriForum nie.

“Die UP het onderneem dat studente wat ingeskryf het om hul studies in hul moedertaal Afrikaans te voltooi wel dié geleentheid sou kry. Hierdie studente moet nou van studietaal verander in die middel van hul kursusse – en die aanpassing is enorm. Dit is nie regverdig teenoor die studente nie, want die universiteit het inderwaarheid vir hierdie studente ’n rat voor die oë gedraai. In gesprekke tussen AfriForum, AfriForum Jeug en die universiteitsbestuur is daar beklemtoon dat die UP juis meertalig wil probeer funksioneer en moeite sal doen om onder meer Afrikaans en Sotho te akkommodeer. Die visekanselier se verklaring maak dit egter duidelik dat daar geen erns met hierdie ondernemings was nie en dat die UP geensins daarna streef om moedertaalonderrig te bevorder nie,” voeg Fourie by.

AfriForum Jeug het reeds in 2018 klagtes van ontevrede lede ontvang wat weens hierdie standpunt in die eksamen benadeel is. Daar was gevalle waar die betrokke UP-dosente nie die studente van Afrikaanse memoranda tydens insae in die vraestelle wou voorsien nie. Die UP se reaksie hierop was dat alle dosente nie Afrikaans magtig is nie. Die verdere implikasies daarvan vir studente wat aanvanklik in Afrikaans begin studeer het, is dat klasse nou net in Engels aangebied sal word. Studente sal dus self die vertalingswerk moet doen om sodoende goed genoeg te kan verstaan om te slaag.
Ongeag die hofuitsprake van die afgelope paar jaar bly AfriForum Jeug se standpunt dat enige onderriginstelling wat die belange van sy studente op die hart dra moeite sal doen om moedertaalonderrig aan te bied.

AfriForum Jeug se standpunt oor moedertaalonderrig is heel duidelik: Almal het die reg tot moedertaalonderrig. “Ons standpunt is nie dat daar net Afrikaanse klasse by universiteite moet wees nie; ons is van mening dat daar ’n nasionale verantwoordelikheid op universiteite rus om ander Afrikatale uit te brei en dit tot akademiese taal te ontwikkel,” sê Fourie.

Soortgelyke plasings