|

Kom steun gholfdag saam met AfriForum ten bate van leerders met spesiale behoeftes

Op 18 Augustus bied AfriForum in samewerking met die Herbertstraatskool vir Leerders met Outismespektrumversteuring (OSV) ’n gholfdag in Durbanville in die Wes-Kaap aan om geld vir die skool se beroepsonderwysprogram in te samel.

Die skool is op 14 Februarie 2019 in Oakdale, Bellville, geopen en deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement begin om in die enorme behoefte vir leerders met OSV te voorsien. Daar was aanvanklik 14 leerders en nou 81.

Volgens Zenobia Helm, verbonde aan die skool, het alle kinders die reg tot onderwys, maar nie almal kan egter die hoofstroomskoolprogram en –leerplan volg nie. “Ons skool voldoen dus aan die behoeftes van leerders met OSV wat hoë vlakke van ondersteuning nodig het om doeltreffend te leer. Ons poog om elkeen te ondersteun en te help om in onafhanklike en waardevolle lede van die gemeenskap te ontwikkel.”

Die leerders is tussen ses en vyftien jaar oud. Daar is vier ontwikkelings-, vyf grondslag- en twee intermediêrefase-klasse.

Die gholfdag het spesifiek ten doel om fondse in te samel vir die beroepsonderwysprogram wat daarop fokus om leerders met vaardighede toe te rus wat hulle in die gemeenskap kan gebruik om sodoende ook vir hulself werksgeleenthede te skep.

Die gholfdag word by die Durbanville-gholfklub, Sport Way, Durbanville aangebied. Die afslaantye is tussen 11:30 en 13:30. ’n Rooster sal aan deelnemers gestuur word.

Die inskrywingsfooi beloop R4 000 per vierbal en sluit in speelfooie, ’n ete by die halfweghuis met ’n koeldrank en ’n ete tydens die prysuitdeling later die aand. Daar is ook pryse op die spel by die aandfunksie.

Die dag se spel sal die formaat van ’n vierbalalliansie aanneem (“two scores to count”). Alle deelnemers speel vanaf hulle klubvoorgee. Gholfspelers wat nie aan ’n klub behoort nie, moet van die volgende voorgee speel: mans 18 en dames 24. Maak asseblief baie seker van jou voorgee voor jy afslaan.

Gholfkarretjies/joggies is vir die deelnemers se eie rekening en kan by Durbanville-gholfbaan bespreek word. Kontaknommer vir die Pro Shop is 021 976 8120.

Enige addisionele verversings en drank is vir die speler se eie rekening.

Ondernemings kan op een van die volgende wyses by die gholfdag betrokke raak:

Natgat @ R3 000.00 – Ietsie vir die spelers se keel (alkoholies/alkoholvry).

Hapgat @ R2 500.00 – Vingerhappies vir die spelers (neem asb. Covid-regulasies in ag).

Spoggat @ R2 000.00 – Stalletjie wat jou maatskappy se diens/produk uitbeeld aan die spelers.

Beskikbaarheid van die bogenoemde is beperk en sal toegeken word met ontvangs van betaling.

Borg van spesiale pryse – Klein promosie-item vir spelers (128 eenhede), vierbalpryse (4 x items per borg), langste dryf (een item/geskenkpakkie), naaste aan gaatjie/“nearest to pin” (een item/geskenkpakkie).

Skenkings – Indien jy/jou organisasie nie die dag kan bywoon nie, maar steeds die skool wil ondersteun, kan ’n donasie gemaak word.

Vir enige verdere navrae of om in te skryf, stuur ’n e-pos na projekte@afriforum.co.za of skakel Minique Valverde-Scott by 082 339 5296.

Soortgelyke plasings