Kommissie se mandaat is erkenning dat staatsmasjien faal


Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat pres. Jacob Zuma se verklaring rakende die aanwysing van ’n kommissie van ondersoek na staatskaping ’n erkenning deur die president is dat die staatsmasjien faal. AfriForum meen dat dít die rede is waarom Zuma die mandaat so wyd maak en dat só ’n wye mandaat nooit Thuli Madonsela se bedoeling was nie.

Dit volg ná die president Dinsdagaand ’n verklaring uitgereik het waarin hy aankondig dat hoofregter Mogoeng Mogoeng vir Raymond Mogoeng, adjunkhoofregter, aangewys het om dié kommissie te lei. Luidens die verklaring sê Zuma dat “die kommissie moet streef om nie net die handeling te ontbloot van sommige nie, maar almal wat ons staat of gedeeltes daarvan kwesbaar gelaat het vir beheer deur magte buiten die publiek waarvoor die regering verkies is. Geen area van korrupsie of boosdoener moet die omvang van hierdie kommissie van ondersoek gespaar word nie”.
Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, sê indien die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hul werk gedoen het, dit nie nodig sou gewees het om die kommissie se mandaat so wyd te maak nie. “Dit kom daarop neer dat een regter nou na alle korrupsie in die land moet kyk. AfriForum weet reeds ’n geruime tyd dat daar mense is wat teen vervolging gevrywaar word. Juis om hierdie rede het die organisasie strukture in plek gestel om mense aanspreeklik te hou,” sê Taute.

Soortgelyke plasings