|

Kommuniste lees Marx, kapitaliste verstaan Marx

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, het gister een van die openbare verhore oor die wysigings aan artikel 25 van die Grondwet in Soshanguve, noord van Pretoria, bygewoon en ’n kragtige boodskap teen onteiening sonder vergoeding gelewer.

Die verhoor, wat die ad hoc-komitee van die parlement gemoeid met die wysiging van artikel 25 gelei het, is hoofsaaklik deur EFF-lede bygewoon. Enkele ondersteuners van die ANC was teenwoordig, maar het aangedui dat hulle is te bang om ’n spreekbeurt te vra uit vrees vir intimidasie deur EFF-ondersteuners.

Die verhoor het ’n halfuur laat begin en is vooraf oorheers deur ’n gesing en dans van EFF-ondersteuners.

Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee, het met die aanvang van die verhoor die reëls verduidelik en almal gemaan om in die gees van die Grondwet aan gesprekke deel te neem en mekaar se insette te respekteer. ’n Inligtingstuk oor wat die voorgenome wysiging behels om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, was in verskeie tale, ook Afrikaans, beskikbaar.

Die oogmerke van die wetsontwerp asook die feit dat dit géén finansiële implikasies vir die staat inhou nie, is in die inligtingstuk vervat.

Die deelname van EFF-ondersteuners is gekenmerk aan insette wat presies ooreengestem en vermoedelik vooraf aan hulle uitgedeel is. Dit kom in kort daarop neer dat hulle wil hê die staat moet alle grond in die land nasionaliseer.

Roets het beklemtoon dat die ANC se najaging van onteiening sonder vergoeding niks meer as ’n politieke set is nie. Hy het daarop gewys dat die vorige deelnameproses vol gebreke is en dat duisende mense se insette nie in ag geneem is nie. Hy het ook gesê geen behoorlike navorsing is gedoen alvorens daar besluit is om artikel 25 van die Grondwet te wysig nie.

Hy het voorbeelde voorgehou van korrupsie wat pogings tot grondhervorming in die wiele gery het asook die feit dat die meeste Suid-Afrikaners nie in grond belangstel nie, maar eerder die geld wil hê. “Die regering is besig om landsburgers te mislei.”

Roets het voorts gesê die ANC en EFF beveg kapitalisme, maar tog geniet hulle die voordele en vrugte daarvan. “Dit is soos om ’n boom te wil afkap. As jy dit doen, moet jy die vrugte daarvan baie vinnig eet, want as die boom dood is, is daar niks oor nie. Kommuniste lees (Karl) Marx, maar kapitaliste verstaan Marx.”

Roets en Monique Taute, veldtogbestuurder by AfriForum, het verlede week uit die VSA teruggekeer ná ’n skakeltoer waartydens belanghebbendes, meningsvormers en ander rolspelers ontmoet is. Tydens dié #DieWêreldMoetWeet-veldtog is verduidelik waarmee die ANC-regering tans besig is, ook wat betref die beleid rondom onteiening sonder vergoeding.

Die verhore oor onteiening sonder vergoeding duur voort.

 

Soortgelyke plasings