|

Konstitusionele Hof wys EFF se aansoek om verlof tot appèl in AfriForum se grondbesettingsaak van die hand

Die Konstitusionele Hof het vandag Julius Malema en die EFF se aansoek om verlof tot appèl teen ’n interdik wat AfriForum in 2017 bekom het van die hand gewys. Hierdie interdik het Malema en die EFF verbied om mense aan te hits om private eiendom te betree en dit onwettig te okkupeer. Malema en die EFF het in Januarie 2023 by die Hooggeregshof in Pretoria om verlof tot appèl in dié saak aansoek gedoen. Die Hooggeregshof het hul aansoek van die hand gewys en die EFF was genoop om die Konstitusionele Hof met hierdie aangeleentheid te nader.

“Die implikasies van Malema en die EFF se intense desperaatheid om hierdie uitspraak omver te werp, is kommerwekkend. Hoekom is die EFF so vasbeslote om wetteloosheid te wil aanblaas?” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Hierdie beslissing is egter nog ’n groot oorwinning vir die reg op private eiendom en ’n verwoestende verlies vir diegene wat misdadigheid en geweld wil aanhits. AfriForum verwelkom die Konstitusionele Hof se bekragtiging van die Hooggeregshof se sterk oordeel teen die aanhitsing van grondbesettings,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings