|

Korporatiewe boelie Ford in adv. Gerrie Nel se visier

Deur Alet Rademeyer

AfriForum het vandag aangekondig dat adv. Gerrie Nel, hoof van die burgerregte-organisasie se privaatvervolgingseenheid, die Jimmy-gesin teen die Ford Motormaatskappy gaan verteenwoordig ná Reshall Jimmy in Desember 2015 doodgebrand het toe die Ford Kuga wat hy bestuur het aan die brand geslaan het.

Nel het gesê hierdie is nog ’n saak om die konsep van privaatvervolging en gelykheid voor die reg te vestig.

Hy het harde woorde vir Ford gehad wat die Jimmy-gesin deurlopend uiters swak en self skokkend behandel het.

Volgens Nel het verteenwoordigers van Ford te kenne gegee dat die Jimmy-gesin nie ’n saak teen die motorreus het nie vanweë die maatskappy se “diep sakke”. AfriForum het by die saak betrokke geraak nadat Reshall Jimmy se suster Renisha die organisasie genader het.

Nel het gesê “ons maak dit duidelik dat ons nie teen Ford-handelaars veg nie. Ek ry self ’n Ford. Ons is teen die wyse waarop Ford-kliënte, met geldige besware en klagtes, behandel is.”

Hy het verwys na nog ’n egpaar, Wynand en Carla Ambrosius, wat ook die mediakonferensie bygewoon het en wat ook kan getuig van die swak behandeling wat hulle van Ford gekry het. Hulle het hul motor en huis in ’n brand verloor en Ford het daarna net aangebied om hulle te help om te reël om paaiement-afbetalings te maak op ’n ander motor met net soveel kilometers as die een wat hulle verloor het.

Van beloftes wat aan hulle gemaak is dat ’n ondersoek in Europa oor die oorsaak van die brande gedoen sou word, het niks gekom nie.

Nel het gesê sy eie ondervinding tydens vergaderings en samesprekings met Ford-verteenwoordigers én hul regsverteenwoordigers het tot niks konstruktief of ’n oplossing gelei nie. Daar is onder meer geweier om enige verslae met bevindings oor die moontlike oorsake van die brande beskikbaar te stel.

Jeff Nemeth, uitvoerende hoof van Ford, is midde-in die Kuga-fiasko ook vervang en nadat hy weg is, het Ford alle korrespondensie en kommunikasie met die Jimmy-gesin opgeskort. Dít het gevolg nadat Ford wou skik en aangebied het om die gesin ’n Ford-voertuig ter waarde van R1 miljoen te gee en ’n welwillendheidstrust te begin. Die gesin het egter geweier omdat hulle glo dat geregtigheid nie geskied het nie.

Nel het gesê dit is om dié en ander redes dat hy besluit het om die gesin tydens ’n formele ondersoek voor ’n regter in die hooggeregshof in Kaapstad te verteenwoordig waar getuienis gelei sal word. Die ondersoek begin op 4 Februarie aanstaande jaar.

“Ons wil sien dat strafregtelike vervolging ingestel word. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik aangevoer daar is nie genoeg bewyse vir vervolging nie. En ’n aansoek om ’n nolle prosequi-sertifikaat is ook geweier. As die hof egter nou bevind dat iemand aanspreeklik is en vir die dood van Reshall vervolg moet word, sal die NVG moet besin. Indien die NVG wel besluit om te vervolg, sal dit vir ons ’n oorwinning wees, anders sal ons privaatvervolging instel.”

Rod Montano, regsverteenwoordiger van die Jimmy-gesin, het gesê die afgelope drie jaar was ’n uitmergelende en uitgerekte proses. “Ons het ons teen ’n betonmuur vasgeloop in elke rigting wat ons beweeg het.”

Renisha het gesê die gesin het alles opgeoffer om geregtigheid vir haar broer te kry. Hulle het ook besluit om nie op te hou baklei nie nadat Ford hul gesin se naam deur die modder gesleep het en wou hê hulle moet voorgee haar broer het selfmoord gepleeg en aan depressie gelei. “Hierdie was ’n baie moeilike reis vir ons gesin en ons wil by ’n punt kom waar ons kan treur en aan beweeg. Ons voer hierdie stryd nie net vir onsself nie, maar ook vir elke ander kliënt van Ford wat aan die swak behandeling onderworpe was wat ons gekry het. Hierdie is ’n tikkende tydbom en iemand moet vir ander Ford-eienaars opstaan.”

Volgens Nel is dit eenvoudig onaanvaarbaar dat internasionale korporatiewe boelies soos Ford hulself as verhewe bo die reg beskou. AfriForum sal ook ander organisasies wat hul aan sulke gedrag skuldig maak, aanvat.

Luidens mediaberigte is meer as 7 000 Ford Kuga-voertuie deur die Ford-maatskappy in Suid-Afrika onttrek. Dit kom nadat 72 van die motors tussen November 2015 en Desember 2017 volgens Wheels24 in die land vlam gevat het.

Soortgelyke plasings