Korrupsie by Gauteng-gesondheidsdepartement wys waarom NGV nie kan werk nie – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag gesê die jongste onthullings rakende korrupsie by die Gautengse departement van gesondheid wys waarom die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekeringsplan (NGV) doodgebore is.
’n Verslag van 122 bladsye deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) bevat onder meer opsienbarende besonderhede oor hoe R1,2 miljard weens wydverspreide korrupsie verlore gegaan het en beskryf ook die growwe wanbestuur by die departement.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê die staat kan tans nie eens sy huidige fondse reg bestuur nie, maar wil nóg geld by die publiek vat om die NGV te finansier. “Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) het vroeër vandeesmaand gesê die Gautengse gesondheidsdepartement, wat veronderstel is om sterker as meer landelike provinsies se departemente te wees, is besig om net so wanfunksioneel soos die Oos-Kaap en Noordwes se departemente te raak. David Makhura, Gautengse premier, het ook vanjaar die korrupsie en bedrog in die Gautengse departement openlik erken. Voorts het die Life Esidimeni-tragedie ook gewys watter swak bestuur en oorsig daar by die Gautengse gesondheidsdepartement bestaan.”
Brink glo nie dit help om bloot geld na iets wat duidelik wanfunksioneel is, te gooi nie. “Hulle moet ten minste eers hul huis in orde kry voordat daar enigsins weer by die belastingbetaler bakhand gestaan word om hul wensdenkery te finansier. Andersins gaan meer geld buitendien net wanbestee word terwyl die openbaregesondheidsektor steeds treurig bly.”

AfriForum gaan binne die volgende drie maande kommentaar op die NGV-wetsontwerp indien en hierdie korrupsie sal beslis deel daarvan uitmaak.

Soortgelyke plasings