|

Kovsies sing in groot getalle saam vír Afrikaans

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Ons dink en droom in Afrikaans, dit sal nie sommer uitsterf nie.”
So sê die sanggroep Klopjag, een van die vele kunstenaars wat verlede week by die Dubbel & Dwars-musiekfees in Bloemfontein opgetree het. Sowat 600 studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het by dié musiekfees bymekaar gekom om Afrikaans as ʼn onderrigtaal te vier.

AfriForum Jeug, in samewerking met Solidariteit en Radio Rosestad, het die musiekfees gehou na afloop van die onlangse aanslag op Afrikaans as onderrigtaal by UV met die doel om studente die geleentheid te gee om vir hul taal op te staan.
Kunstenaars wat vermaak by die geleentheid verskaf het sluit in die musiektrio SAARKIE, Die Heuwels Fantasties, Beeskraal, K2 en Klopjag. |

“Dit was ʼn baie suksesvolle geleentheid en het bewys dat studente by UV steeds lief is vir Afrikaans en bereid is om dit te ondersteun as ʼn onderrigtaal,” het Henk Mareé, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.
Lourene Mostert van die sanggroep SAARKIE het die jeug as die klem vir die behoud van Afrikaans beskou. “Dit hang van jongmense af om die taal suiwer en lewendig te hou,” het sy aan Forum Nuus gesê. “Afrikaans sal bevorder word as ons daarin kan sing, praat en leer,” het Lila Botha, nog ʼn groepslid, gesê.

AfriForum Jeug het vandeesmaand met ʼn petisie by die Kovsies-kampus begin om Afrikaans as ʼn onderrigtaal te behou en sowat elke feesganger het die petisie geteken.
“Studente, veral dié in koshuise, was baie positief oor AfriForum Jeug se veldtog en alle terugvoer het getoon dat hulle bly was om ʼn bydra te kon lewer deur die petisie te teken,” het Mareé gesê.

Charlie Smit van die sanggroep Beeskraal het gesê dat elkeen die voorreg moet hê om onderrig in die taal van hul keuse te ontvang.” “As jy direk van ʼn Afrikaanse skool na ʼn Engelse universiteit gaan, kry jy nie die geleentheid om na die beste van jou vermoë te presteer nie omdat jy onderrig ontvang in ʼn tweede taal.”

Pierre Greef en Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties het gesê dat jong mense ʼn keuse moet hê van die taal waarin hulle onderrig ontvang. Die groep het bygevoeg dat hulle vir ʼn rede besluit het om in Afrikaans te sing. “Ons sing in Afrikaans omdat dit uniek is en talle potensiaal het om verder te ontwikkel.
AfriForum Jeug het gesê dat hulle graag die geleentheid jaarliks sal wil hou en hoop dat die ondersteuning en bywoning met elke moontlike fees sal groei.

Soortgelyke plasings