|

Kraal Uitgewers laat ’n voetspoor in Nederland

Deur Alana Bailey

Tydens ’n besoek aan Nederland in Junie vanjaar het ek die voorreg gehad om weer by Zuid-Afrikahuis in Amsterdam besoek af te lê.

Hierdie statige gebou – geleë te Keizersgracht 141 – en pasgemaakte buitegeboue huisves onder meer ’n klein ouditorium, asook ’n biblioteek met ’n unieke, uitsluitlik Suid-Afrikaans gerigte versameling. Verder is daar omvangryke argief- en beeldmateriaal wat volgens die jongste tegnieke bewaar word. Zuid-Afrikahuis word as ’n kultuur-, inligting- en navorsingsentrum vir mense met ’n belangstelling in Suid-Afrika, die Afrikaner en Afrikaans beskryf wat Nederlandse belangstelling in Suid-Afrika lewend hou en kultuurbande tussen Nederland en Suid-Afrika versterk. Afrikaanse en Nederlandse taalkursusse word daar aangebied, asook byeenkomste van ’n leeskring wat op Suid-Afrikaanse letterkunde fokus.

Die gebou is in ongeveer 1620 deur die Hasselaer-familie van Haarlem opgerig. Dit het aanvanklik as die “Dubbel Arend” bekend gestaan, met verwysing na die dubbel arend op hulle familiewapen. Dit is in 1970 tot Nederlandse Ryksmonument verklaar, tussen 2014 en 2015 omvattend gerestoureer en op 12 Februarie 2016 heropen.

Die reeds genoemde biblioteek huisves met 56 000 titels die mees omvattende versameling van Afrikaanse boeke wat buite Suid-Afrika bestaan. Verder kan etlike tydskrifreekse, DVD’s en ander materiaal ook daar geraadpleeg word.

Kraal Uitgewers en die biblioteek het ’n ooreenkoms aangegaan waarvolgens Kraal alle nuwe titels wat dit uitgee, daaraan sal skenk. Omdat posgeld duur en aflewering onseker is, probeer ons die boeke persoonlik daar besorg wanneer die kans hom voordoen. In Junie 2018 het ek dus onder meer Vat jou goed en bou (Flip Buys en Dirk Hermann), Kultuurvryheid en selfbestuur (Heinrich Matthee), Vers en kapittel (Daniel Hugo) en Wes-Transvaal (Pieter de Jager) aan Corine de Maijer, die bibliotekaris, oorhandig.

Hoogtepunte van hierdie besoek was veral om met die entoesiastiese personeel te gesels, maar verder om in die studiesaal te sit en lees met die somerklanke van Amsterdam dof in die agtergrond, asook ’n bekendstelling van die historiese roman Kongo korset van die Vlaamse skrywer Herlinde Leyssens by te woon.

’n Besoek aan Zuid-Afrikahuis word ten sterkste aanbeveel vir enigeen met ’n passie vir Nederlands-Suid-Afrikaanse bande, ons taal, geskiedenis en kultuur. Ons is trots daarop dat dit ook ’n tuiste vir Kraal se publikasies bied!

Alana Bailey is die hoof uitvoerende beampte van Kraal Uitgewers.

Soortgelyke plasings