|

KRANSLEGGING TER NAGEDAGTENIS AAN SLAGOFFERS VAN PLAASMOORDE

AfriForum het op 16 November ’n kranslegging by sy hoofkantoor in Centurion gehou in solidariteit met die geleentheid wat landbou-organisasies in die Vrystaat hou ter nagedagtenis aan Pieter en Eddie Hills en die meer as 40 ander slagoffers wat vanjaar wreed op plase reg oor die land vermoor is.

’n Vreedsame protesaksie word Maandag op Hennenman in die Vrystaat gehou waar verdagtes in die hof verskyn in verband met Hills en sy seun se moord. Die protes is deur Vrystaat Landbou georganiseer en lede van die publiek het ’n kans gehad om deel te neem aan dié protesaksie deur blomme tydens die geleentheid in Centurion neer te lê.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid, sê dit was ’n bittersoet geleentheid. “Bitter omdat ons weet dat niks wat ons doen hierdie slagoffers gaan terugbring in die lewe nie. Daar is egter ook die soet omdat ons sien hoe mense hul harte oopmaak vir ons boere. Hierdie is die mense wat die hoogste prys betaal het. Dis goed om te sien dat mense iets klein doen soos om ’n blom neer te lê om te verseker dat dié slagoffers nie net as ’n statistiek in die geskiedenis verdwyn nie, maar dat dit mense was met name, wat families gehad het.”

Kamfer sê AfriForum sal voortgaan om die vlaag plaasaanvalle wat die land teister te beveg. Die burgerregteorganisasie sal aanhou om veiligheidstrukture op grondvlak te vestig, waarvan daar reeds 161 bestaan. “Ons sal aanhou om bewustheid te skep, om die veiligheidstrukture op te lei, toe te rus en te ondersteun om hul onderskeie gemeenskappe veilig te hou.”

Hennie Human, slagofferondersteuningsbeampte by AfriForum se trauma-eenheid, het die geleentheid met gebed afgesluit.

Soortgelyke plasings