|

Kriel het Lesufi se ideologies en rassisties-gedrewe uitsprake oor Afrikaanse skole uitmekaar getrek

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, het vandag talle rassistiese vooroordele in Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, se uitsprake oor Afrikaans en Afrikaanse skole uitgewys.

Die twee het mekaar in  ʼn robuuste openbare debat in Tembisa aan die Oos-Rand gepak.

Lesufi het daarop aanspraak gemaak dat hy nie Afrikaans as onderrigmedium teiken nie, maar dat hy slegs toegang tot gehalte-onderrig vir almal wil verseker.

“Ons is nie Afrikaanssprekendes se vyande nie, ons verdedig slegs die Vryheidsmanifes van Suid-Afrika. Geen Afrikaanse skool of leerling sal ondermyn, verinneweer word of toegang tot onderrig in hul taal geweier word terwyl ék LUR vir onderwys is nie.”

Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika nie nou ʼn rasse-oorlog kan bekostig nie en dat die Afrikaanssprekendes ʼn bydra moet lewer om die gehalte van onderwys in die land te verbeter.

“Ons sal die gebeurtenisse van die verlede vergewe, maar sal dit nooit kan vergeet nie. Dit is die apartheidsregering wat ons onderwysstelsel disfunksioneel gemaak het,” het hy in reaksie op Kriel se argument dat 80% van skole wanfunksioneel is, gesê.

Kriel het in antwoord hierop gesê dat AfriForum ook ten gunste van toegang tot gehalte-onderrig vir almal in die land is, maar dat Lesufi die toegangsargument misbruik om ’n anti-Afrikaanse agenda te bevorder.

“Dit is nie apartheid se skuld dat hier nie genoeg onderwysers vandag in Suid-Afrika is nie. Afrikaans is ʼn sagte teiken om die kwessie van ons wanpresterende onderwysstelsel te verbloem.”

Kriel het ʼn beroep op Lesufi gedoen om nie toe te laat dat dieselfde foute van 1976, waarvan een die afdwing van taal op skole, herhaal word nie.

Kriel het gesê Lesufi maak geen geheim daarvan dat hy Afrikaanse skole teiken om toegang vir leerlinge te kry nie. Hy het egter verduidelik dat daar net 2,5% Afrikaanse skole is wat voormalige model C-skole is en al verengels al dié skole sal dit nie gehalte-onderrig vir almal kan verseker nie.

Lesufi het teruggekap en gesê al was daar minder as 0 % Afrikaanse skole maak dit nie saak nie omdat dié skole aan alle leerlinge in die land behoort.

 

Kriel het ook op die probleem van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) se rol in skole gewys wat nie gedissiplineerd klasgee nie en baie min tyd by skole deurbring.

“Indien Lesufi ernstig is oor gehalte-onderrig, sal sy eerste prioriteit moet wees om Sadou te takel en om wanfunksionele skole in sentrums van uitnemendheid te verander. Ons wil hê alle kinders in Suid-Afrika moet toegang hê tot gehalte onderwys.”

Beide partye het na afloop van die debat onderneem om verdere gesprekke te voer.

Kriel het in reaksie hierop gesê dat sekere dinge in die lewe die moeite werd is om voor te baklei en dat die behoud van Afrikaanse skole een daarvan is.

“Diskriminasie teen minderhede moet stopgesit word. Afrikaans is nie ʼn hindernis vir die onderwysstelsel nie, maar ʼn bate.”

2016_06_02 Kyknet_eNuus_Afriforum_19h00

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings