|

Kroonstad-tak rig dringende skrywe aan munisipaliteit oor rioolprobleme

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 4 Mei die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit met ’n dringende skrywe aangemaan om Kroonstad se rioolwerke weer op standaard te kry. Dit volg nadat rou riool in die Valsrivier invloei as gevolg van die swak instandhouding van die suiweringsaanlegte en die ineenstorting van die rioolinfrastruktuur in die dorp.

In die skrywe versoek AfriForum dat die munisipaliteit dringend aandag skenk aan die rioolprobleem en die storting van riool in die Valsrivier onmiddellik staak. Hulle versoek ook dat die munisipaliteit binne drie dae van ontvangs van die skrywe aan AfriForum terugvoer gee oor die planne wat geïmplementeer gaan word om die probleem op te los.  

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir Gemeenskapstrukture vir die sentraalstreek, kom die rioolprobleem al ’n geruime tyd voor en is dit tyd om aksie te neem.

“AfriForum het al in die verlede briewe aan die munisipaliteit gestuur om die probleem onder hulle aandag dit bring. Dit wil vir ons voorkom of die munisipaliteit hulle nie steur aan die gemeenskap se stem nie en daarom is dit tyd om oor te gaan na aksie. Indien die munisipaliteit nie gehoor gee aan ons aanmaning nie, sal AfriForum ’n strafregtelike klagte by die SAPD teen die munisipale bestuurder indien en hom in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik hou vir die besoedeling wat plaasvind,” sê Grobbelaar.

Verder het Grobbelaar bygevoeg dat die riool nie net ’n negatiewe impak op die rivier en ekosisteem het nie, maar ook op mense se gesondheid en lewenskwaliteit.

“Die riool vloei nie net uit in die rivier nie, maar ook in mense se huise, strate, besigheidsgebiede en velde rondom en in die dorp. Mense se gesondheid en lewensgehalte word negatief beïnvloed deur die wanbestuur en onbevoegdheid van die munisipaliteit. Dit is tyd dat die munisipaliteit die dienste oorgee aan privaat maatskappye wat weet hoe om die dienste te bestuur en toesien dat die belastingbetalers se geld reg gebruik word,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum nooi graag die gemeenskap uit om hulle te ondersteun in hierdie aksie deur die petisie teen die rioolprobleem te onderteken om ekstra druk op die munisipaliteit te plaas. Die lys van name sal oorhandig word aan die munisipaliteit om die ongelukkigheid van die gemeenskap uit te beeld.

Klik hier om die petisie te onderteken.

Jy kan ook by jou plaaslike AfriForum-tak aansluit deur jou naam te SMS na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings