|

Kundige in Kuga-saak verduidelik hoekom brand nie ontstaan het

Reshall Jimmy se geregtelike doodsondersoek het vandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof voortgeduur.

Ford se deskundige, die Amerikaanse ingenieur John Loud, het gister in sy getuienis verduidelik waarom die “body control unit” of BCM van Jimmy se Ford Kuga na sy mening nie die oorsaak vir die brand in die motor was nie.

Hy het sy getuienis begin deur die uitgebrande BCM vir die hof te wys en aangevoer dat die brand eerstens nie daarin begin het nie omdat die plastiekdrade wat daarin is volgens hom sou smelt indien ’n vuur naby die BCM ontstaan het.

Loud kon egter nie presies sê wat dié spesifieke plastiekdrade se smeltpunt is nie.

Hy het ook in die motoronderstel wat Ford na die hof gebring as hulpmiddel vir hul deskundige getuies, uitgelig waar die BCM in die kar se raamwerk onder in die passasierkompartement is. Hy het verduidelik dat die BCM bedek word met vlambare materiale en uitgewys dat dié materiale egter nie verbrand het in Jimmy se voertuig nie, wat volgens hom verder bewys dat die brand nie naby die BCM ontstaan het nie.

Loud het ook in sy getuienis verwys na skermskote van ’n video wat gemaak is van die brand en uitgewys dat die voorste venster aan die passasierskant en beide agterste vensters oop was toe die brand in Jimmy se kar begin het.

Loud het verduidelik dat die video wys hoe vlamme om 22:06 uit die bestuurder se toe venster uitgekom het maar nie uit die passasierskant se venster wat ook oop was nie. Dus het die brand volgens Loud aan die regterkant van die motor begin en nie aan die linkerkant soos ander kenners in die saak al aangevoer het nie.

Hy het die bevindings van die anders kenners (Mcleod, Young en Maqaba) ook in sy getuienis betwis.

Loud het aangevoer dat hy geen bewyse gevind het dat ‘n kortsluiting in die beheereenheid plaasgevind of dat drade onder die BCM die brand begin het, soos wat die ander kenners bevind het nie. Hy het die twee kragdrade wat kenners meen die brand veroorsaak het teen mekaar getoets en volgens hom het niks gebeur nie.

Loud het ook verwys na die feit dat Jimmy se motorligte aan was vir ’n tyd nadat die brand ontstaan het soos waargeneem is in die video oor die voorval. Hy het ook daarop gewys dat die ligte van Jimmy se voertuig nie steeds sou gebrand het as die vuur by die BCM ontstaan het nie, omdat die BCM die kragtoevoer na die ligte beheer.

Adv. André Bezuidenhout van Ford se regspan gaan vandag voort met die hoofondervraging van Loud.

Loud het vandag getuig oor toetse wat hy gedoen het in Amerika om te bepaal of daar gevaarlike gasse deur die BCM vrygestel kon word wat Jimmy bewusteloos sou maak.

Regter Henney wou weet wie vir Loud instruksies gegee het om hierdie spesifieke toets op die voertuie in Amerika te doen en waarom daar geen onafhanklike kenner of outoriteit teenwoordig was tydens die toetse nie. Loud het geantwoord dat Ford vir die toetse betaal het.

Loud het aangevoer dat indien die brandende BCM die brand veroorsaak het, soos Joubert bevind het, die tipe en hoeveelheid gasse wat vrygestel sou word nie ’n persoon bewusteloos sou maak nie. Hy voer aan dat die persoon dalk net ’n hoofpyn sou gehad het.

Soortgelyke plasings