|

Kunstenaars oorstelp van vreugde oor Aitsa’s

Afrikaanse kunstenaars, wat gisteraand in die AfriForum Teater met Pretoria FM se Aitsa Musiektoekennings vereer is, was in die wolke oor dié eer wat hulle te beurt geval het.

Riana Nel, wat met die toekenning Liedjieskrywer van die Jaar en Geestelike Liedjie van die Jaar (saam met Retief Burger) weggestap het, het gesê haar asem is weggeslaan oor die toekenning(s) en dat sy só opgewonde is oor die kunstenaars wat nou vorendag kom. Sy het gesê deur liedjies sit God ’n boodskap in kunstenaars se harte en hulle het ’n stem waarmee hulle dit kan oordra. “My hart loop oor.”

Riana Nel

Sy het ook haar man, Cornel de Beer, bedank en gesê “jy leer my van die ewigheid en om nie bang te wees vir die dood nie, want God het vir ons ’n weg gemaak…”

Dankie dat julle na my luister, dat julle my hoor en my sien.

Elandré Schwartz

Elandré Schwartz, wat met vier Aitsa’s vereer is (Rockliedjie van die Jaar, Popliedjie van die Jaar, Kontemporêre Liedjie van die Jaar en Kunstenaar van die Jaar), het mede-kunstenaars soos Riana Nel bedank vir hul rol in sy lewe. Hy het afgesluit om al sy ondersteuners te bedank en gesê “dankie dat julle na my luister, dat julle my hoor en my sien”.

Elandré Schwartz

Christia Visser, wat met haar treffer “17 Shots” as Nuweling van die Jaar bekroon is, het haar familie, vriende en ondersteuners bedank en gesê “julle is die rede dat ek kan doen waarvoor ek lief is. Hierdie toekenning is ’n massiewe eer”.

Dis vir my ’n besondere eer en voorreg om vanaand hier te wees en hierdie wonderlike toekenning te kry.

Gert van Tonder

Gert van Tonder, wat roem as solo-kunstenaar en saam met Sias Reinecke en hul sanggroep Groep Twee, behaal het, het die toekenning vir lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek gekry. Hy is vanjaar 80 en vier 60 jaar in die musiekbedryf. Hy het diep in die harte van Suid-Afrikaners gekruip met treffers soos Sproeitjies, Die Padda, Niks soos ware liefde, Oukraalliedjie en Lola.

Gert van Tonder

“Dis vir my ’n besondere eer en voorreg om vanaand hier te wees en hierdie wonderlike toekenning te kry. Ek is nou al sestig jaar in die bedryf soos julle gehoor het. Ek is so baie geseënd en ek het so baie dankies om te sê, ek sal die heel nag hier staan as ek almal moet opnoem. Ek dank my Skepper wat my die talent gegee het en ook die mense wat Hy oor my pad gebring het wat my gehelp het om my talente te kan gebruik.”

Corlea Botha was een van die gaskunstenaars en sy het die lied Sonvanger aan Theuns Jordaan opgedra wat onlangs op 50-jarige ouderdom aan leukemie dood is.

Corlea Botha

Soortgelyke plasings