Kuruman se jeugvleuel rol moue op vir erfenis


Die jeugvleuel van AfriForum se Kuruman-tak het op 13 April 2019 die Oog in Kuruman tot sy voormalige glorie begin restoureer.

Gerald Tönsing, voorsitter van die jeugvleuel van AfriForum se Kuruman-tak, het met hierdie ambisieuse projek begin. Heelwat is tydens die aksie gedoen: die fontein is vervang en ligte is geïnstalleer. Rainbow Systems het die arbeid en algemene goedere kosteloos voorsien terwyl AfriForum die pype en ligte aangekoop het. Sonder die hulp en ondersteuning van die plaaslike gemeenskap en ondernemings sou dit nie moontlik gewees het nie.
Die jeug het ook die bosse om die terrein verwyder en/of gesnoei en dooie en ou bome wat reeds omgeval het, verwyder. Hulle het verder vir almal betrokke hoender gebraai, wat deur Gamo Chick geskenk is, en sap uitgedeel wat Debonairs Kuruman geskenk het. Dan Leach van Barloworld Toyota Kuruman het personeel gestuur om te help met die verwydering en rehabilitering van waterlelies terwyl Hugo Botha van Easy Load Skippy gesorg het vir die vervoer van dié lelies na die rehabilitasiedamme.

“Skoner Kuruman het ook aan hierdie AfriForum Jeug-inisiatief deelgeneem. Ons wil in besonder vir Fanie Kies, wat die skoonmaakreëlings oorsien het, bedank, asook die borge en die gemeenskap vir hul ondersteuning. Dit wys waartoe ’n relatiewe klein gemeenskap, soos Kuruman, in staat is as ons saam staan en werk,” sê Tönsing.
“Ons verbintenis tot die ontwikkeling van die jeug en die bewaring van ons erfenis bly van ons kerndoelwitte. Ons is trots om te sien hoe die jeug verantwoordelikheid vir hul erfenis neem,” sê Bernard Pieters, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir dorpstrukture.

Raak vandag nog by dié tak se jeug betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos na bernard.pieters@afriforum.co.za of SMS “Kuruman” na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings