|

KWAZULU-NATAL-TAKKE VERMAG STIL-STIL WONDERE IN DIÉ PROVINSIES

Deur Marthinus Koekemoer

Praat met enige van AfriForum se takvoorsitters in KwaZulu-Natal (KZN) en ’n mens kom gou agter hierdie takke is nie opsoek na lofsange vir die goeie werk wat hulle doen nie.

AfriForum se nege takke in dié provinsie fokus op volhoubare projekte en aksies wat vir die plaaslike gemeenskap volhoubaar kan wees.

Noem enige van die takke en daar is iets waarmee hulle besig is wat ’n verskil maak. In Amanzimtoti is die tak byvoorbeeld besig met ’n erfenisprojek om ’n ou konsentrasiekampterrein en -monument op te knap, in Newcastle is spreiligte by La Gratitude Cottages, ’n aftreeoord, aangebring om veiligheid te verskerp en in Utrecht en Margate is waterpunte aangebring om in tye van nood water aan plaaslike gemeenskappe te voorsien. En dis net enkele van die hoogtepunte.

“Ons stel nie belang in die sogenaamde hit and run-aksies nie,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se streekskoördineerder in KZN. “Die takke probeer volhoubare projekte identifiseer waarop hulle hul tyd en begrotings kan spandeer.”

Uit die nege takke in KZN het sewe buurtwagte. Veiligheid is ’n prioriteit met goeie samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander plaaslike veiligheidstrukture. Hluhluwe is waarskynlik dié AfriForum-tak waar veiligheid die meeste aandag geniet. Die dorpie is geleë op die R22 net langs die N2-snelweg. Die R22 is ’n gewilde roete vir smokkelaars wat onwettige items, insluitend sigarette en dwelms, vanuit Mosambiek na Suid-Afrika smokkel. In die teenoorgestelde rigting gebruik sindikate hierdie roete om gesteelde voertuie uit die land te kry.

Sonette Gaskell staan voor die plantasie net buite Vryheid waar die plaaslike AfriForum tak ‘n hofsaak aanhangig gemaak het oor moontlike tenderbedrog.

Pierre Conradie is die voorsitter van die AfriForum-tak op Hluhluwe. “Ons is groot op veiligheid aangesien ons op die hoofroete na Mosambiek is. AfriForum het baie goeie samewerking met die gemeenskap en die plaaslike SAPD. Ons probeer een keer per maand saam met die SAPD aan ’n padblokkade deelneem waar ons spesifiek op die uitkyk vir gesteelde voertuie en gesmokkelde goedere is.”

Pierre Conradie snr. verduidelik aan Eugene van Aswegen hoe die kamerastelsel in Hluhluwe werk.

Conradie noem munisipale aangeleenthede as dié tak se grootste uitdaging, maar dat stappe gedoen word om probleme te pak. Die meeste ander takke in die provinsie het ook uitdagings wat plaaslike munisipaliteite betref. So het AfriForum in Vryheid ’n hofsaak aanhangig gemaak oor ’n plantasie wat sonder die nodige tenderproses aan ’n plaaslike sakeman vir gebruik oorhandig is. In Margate is daar dikwels watertekorte en in Pongola moes AfriForum ’n begraafplaas opknap omdat die plaaslike munisipaliteit dit nie gedoen het nie.

Van Aswegen, wie ook op die SAPD se Provinsiale Landelike Veiligheidskomitee dien, sê AfriForum vertolk ’n belangrike rol in KZN. “As ’n mens AfriForum uit die provinsie sou verwyder, sou dit ’n groot leemte agterlaat. Die takke doen goeie werk, maar die suksesse is net moontlik met die hulp van die vrywilligers wat so baie vir ons doen dit. Baie danke aan elkeen van julle.”

Ian Rapson, takvoorsitter op Richardsbaai, waar hulle plaaslike skole onder meer saniteer stem saam met Van Aswegen. “AfriForum fokus op al die aspekte wat ’n goeie gemeenskap bou. AfriForum het goeie strukture in plek en het baie hulpbronne. As ’n mens ’n verskil in jou gemeenskap wil maak, moet jy by AfriForum inskakel. Daar is geen ander organisasie in die land wat so groot verskil maak nie,” sê hy.

Enkele tak-hoogtepunte:

Newcastle: Spreiligte is by La Gratitude Cottages geïnstalleer om veiligheid te verskerp.

Utrecht: Twee noodwaterpunte is opgerig.

Vryheid: ’n Gemeenskapsentrum is op die been gebring met ’n beheerkamer vir buurtwagte en ’n kliniek.

Amanzimtoti: ’n Erfenisprojek is van stapel gestuur om die plaaslike konsentrasiekamp en -monument op te knap.

Margate: ’n Noodwaterpunt is opgerig en ’n dak gebou by Tent City, ’n blyplek vir Afrikaners sonder ’n ander heenkome.

Richardsbaai: ’n Projek is begin om plaaslike skole gratis te saniteer.

Hluhluwe: Een van die land se grootste beheerkamers word in oorleg met ’n plaaslike sekuriteitsfirma bedryf om die omgewing veilig te hou en om onwettige handel oor en van die Mosambiekse grens te verminder.

Pongola: Die plaaslike begraafplaas is opgeknap. ’n Plaaslike sekuriteitsfirma beman ook die begraafplaas op Sondagoggende om ’n veilige besoek aan geliefdes se grafte te verseker.

Paulpietersburg: ’n Kospakkieprojek is tydens die COVID-19-inperking van stapel gestuur om plaaslike inwoners wat swaartrek van kos en ander noodsaaklike items te voorsien. Hier is ook ’n beheerkamer en gemeenskapsentrum wat verskeie dienste aan plaaslike inwoners verskaf.

Soortgelyke plasings