|

KYK: BEDROGKLAG TEEN BLOEMHOF-SILO’S GEOPEN OM BOERE TE HELP WAT ERGE PRYSVERLIESE LY

Deur Alet Rademeyer

Suid-Afrika se boere voer ’n opdraande stryd. Daagliks moet hulle veg om hulself en hul gesinne te beveilig, terwyl die ANC-regering ook ’n swaard oor hul kop hou met sy beleid oor onteiening sonder vergoeding.

Insetkoste is hemelhoog en boere kry weens prysmanipulasie ook nie die pryse wat hul toekom vir hul produkte en graan nie.

Die miljoene rande se verliese wat boere weens prysmanipulasie ly, het daartoe gelei dat AfriForum se Privaatvervolgingseenheid en die familieboernetwerk Saai by ’n ondersoek betrokke geraak het.

Dié organisasies het onlangs ’n graanboer van Mpumalanga bygestaan om ’n strafregtelike klag van bedrog teen die bestuur van die Bloemhof-silokompleks by die polisie aanhangig te maak. Dié boer het na bewering etlike miljoene rande se verliese gely weens prysmanipulering.

Benjamin Krüger, Stephen Krüger, Janes Barnard, Gert du Preez, Petrus Claassen van Eeden, Francois Rossouw (Saai), Chris Gous (ondersoeker van privaatvervolgingseenheid). Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die klag hou verband met silosertifikaatbedrog wat daarop neerkom dat silokomplekse meer silosertifikate as waarborge uitreik as wat daar werklike mielies in die silo’s is.

Silosertifikate word as waarborg aan die eienaars van die mielies gegee en kan verhandel word. Hierdie sertifikate is veronderstel om die kwaliteit, kwantiteit en ligging van mielies te waarborg.

Die bedrogklag teen Bloemhof-silo’s spruit voort uit ’n onafhanklike ondersoek van die JSE waarin bevind is dat Suidwes Landbou, wat intussen deur Senwes oorgeneem is, se Bloemhof-silo’s rapporteringsreëls oor silovoorrade oortree het. Senwes moes verlede jaar ’n boete van R1,5 miljoen aan die JSE betaal omdat die Bloemhof-silokompleks ’n tekort van 17 035 ton mielies gehad het in vergelyking met die hoeveelheid WM1 graad mielies wat daar bestaan het volgens die silosertifikate en folio-bewyse wat uitgereik is. Die hoeveelheid mielies was dus nie in die silo’s en kon nie op aanvraag aan sertifikaathouers gelewer word nie.

Dit is onduidelik hoeveel boere oor jare heen weens dié praktyke skade gely het. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Boere meen dit is van kardinale belang dat daar vertroue en sekerheid in die hele mark moet wees en dat die hoeveelheid en gehalte van die kommoditeit op die plek moet wees en geberg word wat op die sertifikaat aangedui word sodat die houer van die sertifikaat die aflewering van sy kommoditeit sonder enige vertraging kan kry. Indien dit nie gebeur nie en ’n boer byvoorbeeld weke moet wag dat graan eers (gewoonlik van elders soos ander silo’s) beskikbaar gemaak word, kan die prys val en wissel en tot enorme verliese ly.

Derhalwe is dit belangrik vir die integriteit van die hele graanmark dat silobergingingsfasiliteite aan die vereistes van die JSE voldoen.

Chris Gouws, senior ondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, sê die beweerde silosertifikaatbedrog kom neer op ’n onwettige en doelbewuste wanvoorstelling aan sertifikaathouers. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid is juis gestig om toe te sien dat korporatiewe boelies aan die pen ry indien hulle oortree en daarom sal ons hierdie saak bly moniteer en saam met die polisie en vervolgingsgesag werk om toe te sien dat geregtigheid geskied.

Die verwagting is dat meer boere na vore sal kom na gelang van wat met hierdie saak gebeur. Dit is onduidelik hoeveel boere oor jare heen weens dié praktyke skade gely het. Boere meen ook sertifikaatbedrog is waarskynlik nie net tot enkele silokomplekse beperk nie en dat ’n deurtastende ondersoek nodig is om hierdie vorm van beweerde geïnstitusionaliseerde korrupsie en bedrog aan die kaak te stel.

Soortgelyke plasings