|

KYK: BLOEMFONTEIN SKONER NA AFRIFORUM-TAKKE #VEGENBOU-WEEK MET MASSA VULLISVERWYDERINGSPROJEK AFSKOP

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum se Bloemfontein-takke het hul #VegEnBou-projek vandeesweek afgeskop deur meer as honderd ton vullis te verwyder en ’n bewusmakingsessie oor die burgerregte-organisasie se aktiwiteite in dié stad te hou.

Verskeie woonbuurte in Bloemfontein gaan gebuk onder swak munisipale bestuur, waarvan vullisverwydering tans een van die grootste uitdagings is. Dit wil ook voorkom of daar ’n totale gebrek aan toegangsbeheer by die plaaslike stortingsterrein is met beide weegbrûe wat buite werking is. Boonop het die 12 stukkende staande masjinerie op die terrein, wat miljoene rande werd is, nou huise vir haweloses geword.

Ná talle klagtes van inwoners het AfriForum onlangs besluit om gemeenskappe te help om hul huishoudelike vullis op ’n gereelde basis te verwyder deur ’n privaat vullisverwyderingsinisiatief te begin.

As deel van die #VegEnBou-week het talle ondernemings en lede van die gemeenskap skenkings gemaak en ook self die Rayton-Heuwelsig tak gehelp om vullis in Hillsboro, Dan Pienaar en Heuwelsig te verwyder. ’n Totale afstand van 580 km is afgelê om dié projek te voltooi.

AfriForum Jeug, AfriForum-buurtwagte, VR-Sekuriteit, Med24/7 ambulansdienste en Life Rosepark Hospitaal se nood mediese voertuig was ook deel van die bewusmakingsessie.

Volgens Christo Groenewald, distrikskoördineerder van AfriForum se Bloemfontein-takke, behartig die burgerregte-organisasie reeds vier volhoubare projekte in dié stad, waaronder die vullisverwyderingsdiens sowel as die projek om straatname te verf.

Volgens Groenewald is dié takke ook nou in staat om die noorde en suide van Bloemfontein op te knap en in stand te hou danksy kontrakteurs wat aangestel is onder AfriForum Pionier en die aankoop van trekkers.

AfriForum gaan as deel van die #VegEnBou-projek verder ook hande met Anchor of Hope vat om monumente by die President Brand Begraafplaas en die Britsmonument op ’n maandelikse basis in stand te hou en op te knap.

Lede van AfriForum se Wilgehof-tak, spelers van die Cheetahs-rugbyspan se Cheetahs for Change, spelers van die Hoërskool Jim Fouche se rugbyspanne én lede van die publiek het ook onlangs ingespring om slaggate te herstel en strepe in die strate voor die skool oor te verf.

Soortgelyke plasings