|

KYK: Bokser spring in kryt om AfriForum te help in stryd vir skoon water

’n Mens hoef maar net die radio aan te skakel of ’n koerant oop te slaan, om te besef die land het groot probleme en uitdagings rondom waterbronne en –infrastruktuur.

AfriForum het onlangs weer sy blou-en-groendruppelverslag vrygestel waarin bevind is dat 122 rioolsuiweringswerke in Suid-Afrika nie aan die nasionale standaard voldoen nie. Daar was ook vier dorpe waar die drinkwater nie op standaard was nie, maar ná AfriForum die probleme onder die regering se aandag gebring het, is die drinkwater van Hartswater, Jan Kempdorp, Kimberley en Wolmaransstad intussen weer vir menslike gebruik geskik.

Vanjaar is die drinkwater (bloudruppel) op 231 dorpe en verwerkte rioolwater (groendruppel) by 142 aanlegte getoets. Die goeie nuus is dat die gehalte van drinkwater oor die algemeen sedert verlede jaar se toetse verbeter het.

Die opstel van die blou-en-groendruppelverslag is jaarliks ’n omvattende projek vir die burgerregteorganisasie.

Die waarde van dié verslag het ook by Robert Schoeman, ’n AfriForum-ondersteuner en loodgieter van Ruimsig, Roodepoort, aanklank gevind. Hy het Saterdag aan ’n witboordjie boksgeveg in Pretoria deelgeneem om fondse vir die opstel van die verslag in te samel.

Schoeman het AfriForum in die verlede op soortgelyke wyse ondersteun en geld, wat tydens ‘n boksgeveg ingesamel is, aan die Wilmien Potgieter-fonds geskenk. Dit is ‘n ondersteuningsfonds vir kinderslagoffers van plaasmoorde. 

Toetse vir die AfriForum blou-en-groendruppelverslag word in oorleg met iWater Solutions en iLab uitgevoer en toets onder meer vir nitrate, fosfate, E.coli en yster. Dié toetsstel bevat nou slegs vier toetse, toets akkurater en daar kan vir verskeie bykomende stowwe getoets word.

Wat die onderskeie provinsies betref, vaar Gauteng en Mpumalanga uitstekend met drinkwater. Probleme met watergehalte is laas in 2016  aangemeld. In KwaZulu-Natal gaan dit selfs beter. Water wat nie aan standaarde voldoen nie, is laas in 2015 hier aangemeld. In Limpopo, die Wes- en Oos-Kaap was daar laas in 2018 ’n probleem. In die Vrystaat was daar verlede jaar in Boshof fekale koliformige bakterieë in boorgatwater wat nou nie meer teenwoordig is nie. In die Noord-Kaap en Noordwes was daar soortgelyke probleme, maar ’n hele paar dorpe het sedert verlede jaar verbetering getoon.

Ongelukkig kan dieselfde nie van rioolwater gesê word nie. Sedert AfriForum die blou-en-groendruppelverslag die eerste keer in 2013 uitgereik het, is ’n duidelike agteruitgang by rioolaanlegte waargeneem. Die Wes-Kaap het oor die algemeen die beste gevaar met 11 aanlegte wat die toets geslaag het. Dis egter minder as die helfte van aanlegte waar toetse gedoen is.

In Mpumulanga en Noordwes het drie rioolaanlegte aan die standaarde voldoen, in Gauteng was daar twee en in die Vrystaat en Noord-Kaap onderskeidelik een. Die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo het saam nie eens een rioolaanleg opgelewer wat aan die nodige standaarde voldoen nie.

Die standaarde bepaal daar mag nie meer as 1 000 eenhede E.coli per 100ml water wees nie. Om al die dorpe op te noem waar die vlakke bo 1000 eenhede is, sal ’n rukkie neem. Wat nog meer skokkend is, is dat daar verskeie dorpe is waar die vlakke selfs bo 10 000 eenhede trek. Elke provinsie, insluitend die Wes-Kaap, het rioolaanlegte wat al tot hierdie vlak verval het.

“Die groendruppeluitslae is baie kommerwekkend – veral ten opsigte van swak rioolbestuur – en dit dui op die verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur. ’n Tekort aan bekwame personeel om dié infrastruktuur te bestuur en die gebrekkige instandhouding van aanlegte is ook kommerwekkend,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

De Klerk sê hulle is toegang tot sekere rioolaanlegte geweier en dat daar selfs in sekere gevalle soos in Lydenburg geen water by die rioolaanleg inloop nie. Dit beteken dat rou riool net so by pompstasies en mangate uitloop.

Die Departement van Water en Sanitasie het darem aangekondig dat hulle hul eie blou-en-groendruppeltoetse gaan hervat. Dis laas in 2013 gedoen. Voorts het AfriForum-takke, waar moontlik, aksielyste opgestel wat aan munisipale bestuurders oorhandig is om watergehalte te verbeter.

“AfriForum wend verskeie pogings aan om munisipaliteite wat swak bestuur word, aanspreeklik te hou,” sê De Klerk. “AfriForum-takke regoor die land sal alle toepaslike remedies gebruik om te verseker dat daar onverwyld aandag gegee word aan probleme met watergehalte sodat hierdie waardevolle hulpbron ten alle koste beskerm word.”

Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings