|

Kyk: Covid-19-taakspan voed tientalle behoeftige gesinne in Coligny

 

Meer as 70 behoeftige gesinne van Coligny, ’n plattelandse dorpie in Noordwes, het vir die volgende maand kos danksy AfriForum, Saai, die Mark Fish Stigting en ’n weldoener hoenderboer van Ventersdorp.

Die burgerregte-waghond se Covid-19-taakspan het vandag pakkies, wat elk met ’n maand se kosvoorraad gevul is, by die NG-gemeente in Coligny afgelewer waarna dit na die gesinne versprei sal word. Sandra van Zyl, ’n plaasaanvalslagoffer en hoenderboer van die plaas Willow Valley in Ventersdorp, het sowat ’n ton eiers aan dié gesinne geskenk.

“Ons doel is om vandag letterlik bokse vol hoop, bemoediging en verligting vir hierdie behoeftige gesinne te bied en ons wil intree daar waar die staat net bloot van mense vergeet het,” sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

“Ons hoop dat dié skenkings verligting vir die sowat 180 mense sal bring. Die nood in gemeenskappe is groot en ons is dankbaar vir elke persoon en boer se skenking,” sê Cameron.

Volgens ds. Tewie Pieters van die plaaslike NG-gemeente, is AfriForum sedert die Coligny-onluste van 2017 aktief betrokke by die opheffing van dié dorp. “AfriForum, Solidariteit en Helpende Hand is deur die plaaslike takke en buurtwagte aktief betrokke by die skoonmaak én veiligheid van die dorp. Hulle is basies die hart van die dorp se funksionering.”

Hy benadruk dat die impak van die Covid-19-virus ’n groot invloed op die klein dorp gehad het omdat daar reeds voor die staat van inperking nie baie werksgeleenthede was nie. “’n Nuwe nood het ons van vooraf getref. Ons het baie klein besighede en plaaslike entrepreneurs wie se inkomste, wat reeds beperk was, nou gesny is.”

Plaaslike boere en ander gemeentes het volgens Pieters hul harte en hande ook in die krisistyd oopgemaak deur vars groente en vrugte en warm maaltye te skenk. Maar die nood bly egter steeds groot.

Pieters sê hy het reeds by die staat se “Solidarity Fund”, AgriSA, SA Day en selfs dr. Job Mokgoro, die premier van Noordwes, vir Covid-19-hulp aansoek gedoen, maar tot dusver het sy versoeke op dowe ore geval. “As daar nou een dorp is wat ’n bietjie hulp verdien, is dit ons dorpie. Ons is sedert die onluste ‘insident vry’ en ons gemeenskap werk hard daaraan om vrede en versoening te kweek en te behou.”

Pieters sê die gemeenskap het groot waardering, nie net vir die skenkings nie, maar ook vir die rol wat AfriForum in die gemeenskap speel. “Coligny is ’n getuigskrif van wat AfriForum in dorpe kán doen.”

Die Covid-19-taakspan het vandeesweek ook in samewerking met Solidariteit Helpende Hand gehelp om etlike ton kos in Gauteng na Helpende Hand se Josef Silo’s te vervoer. Helpende Hand sal dié kos vanuit die Josef Silo’s na mense in nood versprei. Sedert die staat van inperking het die taakspan ook byna 300 ton kos in die vorm van meer as 60 000 maaltye vir behoeftiges geskenk.

 

 

 

Soortgelyke plasings