|

Kyk: Geluk Pretoria! Stad vier vandag 166 jaar

Deur Alet Rademeyer

Pretoria, oftewel die administratiewe hoofstad van die land of in die volksmond ook die immergewilde Jakarandastad, is vandag 166 jaar oud.

Prof. Anton van Vollenhoven, verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), wat ’n boek oor die voorgeskiedenis van Pretoria geskryf het, het vanoggend vanaf die dak van die Voortrekkermonument ’n paar staaltjies oor die stad vertel.

Sy boek, wat aandag gee aan die steen- en ystertydperk van Pretoria, word in Desember vrygestel.

Pretoria is vandag 166 jaar oud.

Van Vollenhoven het verwys na die unieke biodiversiteit van Pretoria wat deur die Magaliesbergreeks omring word. Die plant- en dierlewe was eeue gelede ook iets besonders en Groenkloof is in ’n stadium as ’n “leeunes” beskryf.

In sy boek sal meer lig gewerp word op hoe mense 600 000 tot ’n miljoen jaar gelede hier geleef het en van watter klipwerktuie gebruik gemaak is en al hier gevind is. Tydens die ystertydperk rondom 1450 het Sotho’s en Tswanas hier gewoon en teen 1630–1670 het die Ndebeles dié stamme aan hulle onderwerp, maar tog hul kultuur aangeneem.

Prof. Anton van Vollenhoven van die Noordwes-Universiteit (NWU)

Die gebied waar Pretoria vandag geleë is, het in die 1840’s baie aantreklike landboumoontlikhede vir die Voortrekkers gebied en enkele plase, soos Elandspoort en Groenkloof, is reeds vroeg in die 1840’s hier aangelê. Die broers Lucas en Gert Bronkhorst was van die eerste boere in die gebied. Die eerste huis is deur J.G.S. Bronkhorst in 1840 in die Fonteinedal opgerig.

Pretoria as stad is op 16 November 1855 deur die Voortrekkers gestig. M.W. Pretorius het dit as Pretoria Philadelphia (Die Broederskap van Pretoria) gestig en dit na sy vader Andries Pretorius genoem, wat ná die oorwinning oor die Zoeloes in die Slag van Bloedrivier, as ’n volksheld vereer is.

In Mei 1860 het Pretoria amptelik die hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) geword. In 1910 het dit Transvaal en die nuutgestigte Unie van Suid-Afrika se hoofstad geword.

Pretoria het nie so vinnig soos Johannesburg ontwikkel nie en eers op 14 Oktober 1931 stadstatus gekry. Pretoria het eers ná die NP-regering in 1948 aan bewind gekom het al hoe belangriker geword.

Gerhard Pretorius, woordvoerder van die Voortrekkermonument

Sedert 2000 is Pretoria deel van die Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit.

Die Jakarandastad, waaroor kunstenaars soos wyle Koos du Plessis, Lianie May, Pieter Smith en die musiekgroep Anders, hul harte al uitgestort het, se eerste Jakarandabome is in 1888 deur J.F. Cilliers geplant.

Volgens Van Vollenhoven is Jakarandas in 1906 as goeie straatbome geïdentifiseer en in 1911 is 64 km se Jakarandabome aangeplant.

Hoewel Pretoria deesdae baie dae in donker gehul is weens Eskom se gebreke, het die stad wel reeds in 1894 elektrisiteit gehad.

Die uitsig vanaf die dak van die Voortrekkermonument

Pretoria is die tuiste van talle geskiedkundige en ander bakens waaronder die Voortrekkermonument, Fort Klapperkop, die Uniegebou, die Ou Raadsaal van die ZAR, die Erasmus-kasteel, die Anton van Wouw-huis, die Edoardo Villa-museum, Kruger-huis, Melrose-huis, die Mapungubwe-museum, Pierneef-museum en Sammy Marks-museum. Die stad spog ook met verskeie parke en voël- en natuurreservate asook die Nasionale Botaniese Tuin.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument

Belangrike ander instellings sluit in Akademia, Sol-Tech, die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), die Universiteit van Pretoria (UP), die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en die Landbounavorsingsraad (LNR). Daar is meer as twintig winkelsentrums en verskeie teaters waaronder AfriForum Teater, Atterbury Teater en die Pierneefteater.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het die hoop uitgespreek dat Pretoria, wat ook as die Voortrekkerstad bekend gestaan het, vir nóg 166 jaar opgepas, opgebou en gekoester sal word.

Foto’s en video: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Soortgelyke plasings