|

KYK: HELP EN RED JOU DORP UIT SY (SLAG)GAT!

Deur Alet Rademeyer

Daar is nie meer ’n enkele dorp in die land waar daar nie soveel slaggate is dat inwoners letterlik swenk-swenk bestuur nie.

Infrastruktuur en dienslewering onder die ANC-regering het só verval dat gemeenskappe geen ander keuse het as om self moue op te rol om veral slaggate te herstel nie.

Slaggate is landwyd ’n groot krisis wat al tot vele ongelukke en die dood van verskeie mense gelei het. Daarbenewens word skade aan voertuie weens gevaarlike slaggate daagliks op die land se paaie aangerig.

AfriForum en vrywilligers het die afgelope paar jaar reeds duisende slaggate opgevul en ’n reuseverskil gemaak. Die uitgangspunt is: Jy kan kla, of jy kan deel van die oplossing wees.

Vandeesmaand daag AfriForum al sy takke weer uit om te kyk watter tak die meeste slaggate in tien dae in Mei kan herstel. Die taklede en vrywilligers wat die beste vaar, sal met ’n aansporingsbonus vir hul takke beloon word. AfriForum sal ook deurlopend foto’s op sy sosialemedia-platforms plaas sodat die res van die land kan sien hoe dit lyk waar en wanneer gemeenskapslede hande vat. Die vereistes vir die slaggate wat gevul moet word, is groter as 300 mm x 300 mm.

Slaggate is nie net in klein dorpies en op die meerderheid van die land se paaie ’n probleem nie. In Johannesburg is dit ook ’n enorme krisis.

Burgemeester Geoffrey Makhubo het vanoggend dié stad se Pothole Patrol-inisiatief op William Nicol-rylaan bekendgestel. Die metroraad pak die inisiatief in samewerking met Discovery en Dialdirect aan.

Jacob Mamabolo, Gautengse LUR vir paaie en vervoer, het inwoners van die stad verlede maand om verskoning gevra vir ’n enorme gat op die hoek van Beyers Naudé-rylaan en Lewishamstraat in Randburg wat motoriste hoofbrekens besorg het. Die gat is intussen herstel.

Jy kan AfriForum help om die grootste mylpaal nog in Mei te bereik deur ’n slaggat te borg. Jy kan ’n R10 donasie maak deur die woord “slaggat” na 38310 te SMS of jy kan ’n inbetaling maak by:

Rekeningnaam: AfriForum NPC

Rekeningnommer: 623 4989 8398

Taknaam: FNB Centurion

Takkode: 261-550

Verwysing: Slaggat

Soortgelyke plasings