|

Kyk: Historiese trekroetetuin by Voortrekkermonument boei oud en jonk

Die bekendstelling van die historiese trekroetetuin by die Voortrekkermonument in Pretoria het oud en jonk vanoggend in vervoering gehad. Almal kon speel-speel meer leer oor die Groot Trek sowel as die trekroetes wat Louis Trichardt, Piet Uys, Piet Retief, Hendrik Potgieter en Gerrit Maritz gevolg het.

Die trekroetetuin is pret vir oud en jonk.

Daar was ’n klompie interessante vrae wat besoekers vir ’n blokraai moes voltooi om ’n kans te staan om ’n prys te wen. Van die vrae is:

  • Wat is in Piet Retief se leertas gekry by Kwa-Matiwane op 20 Desember 1838?
  • Waar is die Van Rensburg-trek uitgemoor?
  • Waar het Deborah Retief haar pa se naam op die Retiefklip geskryf?
  • Tot by watter berg het Louis Trichardt verder noord getrek, soos afgespreek met Hendrik Potgieter?
  • Uit watter dorp het Piet Retief se trek begin?
  • Met watter soort “karre” het die Voortrekkers oor die Drakensberge getrek?
  • Hoeveel Voortrekkers is gewond tydens Bloedrivier?
  • Vir hoeveel dae het die veldtog teen Mzilikazi in Oktober 1837 geduur?
  • Wie was die seuntjie wat tydens die Liebenbergkoppie-aanval ontvoer en nooit weer gevind is nie?

As jy nou kopkrap oor hierdie én ander vrae, is dit tyd dat jyself die trekroetetuin besoek en jou geskiedenis opskerp!

Hans Retief, nasaat die Retiefs

Die trekroetetuin is in 1963 voltooi en het vanjaar ’n nuwe baadjie aangetrek. Die roetes van die trekleiers is vernuwe en die paadjies is uitgekap. Die trekleiers se roetes is met verskillende soorte en kleure klippe uitgebeeld. Retief s’n is met blou leiklip uitgelê, Trichardt s’n met geel leiklip, terwyl Uys spog met ’n rooi granietkliproete.

“Susanna Smit se storie is inspirerend en gee ons ’n boodskap van hoop.”

Die trekroetetuin spog ook met replikas van Dingaanstad, die Ohrigstad Fort, die Geloftekerk, die Kaalvoetvrou, Moordkoppie, Bloukrans, Kerkenberg, Thaba Nchu en die bekendste berge en riviere op die trekroetes word ook aangedui.

‘n Beeldjie ter herdenking van die drie Liebenberg-kinders wat 185 jaar terug ontvoer is.

Die Kaalvoetvrou-beeld handel oor die storie van Susanna Catherina Smit, vrou van eerw. Erasmus Smit, wat die eerste predikant van die Voortrekkers was. Dit is Susanna wat die bekende woorde geuiter het: Liewer kaalvoet terug oor die Drakensberg as om onder Britse beheer te staan.

Susanna is egter in die destydse Natal dood en het dus nooit kaalvoet terug oor die Drakensberg geloop nie.

“In die Groot Trek was dit die grootste verlies aan lewens. Dit is hartseer en tragies. Mens voel hoe die trane in jou oë opstoot.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê dis ’n voorreg om só ’n beeld by die monument te hê. “Susanna Smit se storie is inspirerend en gee ons ’n boodskap van hoop.”

Jaco van Niekerk, beeldhouer van die replika van die Bloukransmonument, sê “die geskiedenis van Bloukrans gee my steeds koue rillings. Dit is ’n verskriklik ding wat daar gebeur het. In die Groot Trek was dit die grootste verlies aan lewens. Dit is hartseer en tragies. Mens voel hoe die trane in jou oë opstoot.”

Hiermee het die Voortrekkerkinders hulself vermaak.

Die Gelofte is vandag (9 Desember) presies 183 jaar gelede vir die eerste keer deur Sarel Cilliers voorgelees en op 16 Desember by Wasbankspruit afgelê voor die Slag van Bloedrivier. ’n Nasaat van Cilliers, Emile Nel, het vandag ook die Gelofte by die monument voorgelees.

Hans Retief (84), ’n nasaat van die Retiefs, het die seremonielint by die bekendstelling van die historiese trekroetetuin geknip.

Kyk die video hier:

Soortgelyke plasings