|

Kyk: Hommeltuigopleiding maak gemeenskappe sterker

Gemeenskapsveiligheid het vandeesmaand nog ’n hupstoot gekry met nog nege AfriForum-takbestuurslede wat suksesvolle hommeltuigopleiding in Orania ontvang het.

Dit bring die aantal individue wat opgelei is sedert AfriForum se lugsteuneenheid in 2018 op die been gebring is op 72 te staan. Dit was die sesde kursus wat aangebied is.

Paula Carstens van die Malelane/Nelspruit-tak het die kursus geslaag.

Verskeie AfriForum-takke het hul eie hommeltuie of is in die proses om dit aan te skaf. AfriForum het tans toegang tot meer as 30 hommeltuie wat in noodsituasies tot die lugsteuneenheid se beskikking is.

Volgens Marius Muller, ’n instrukteur by Forum Sekuriteit gemoeid met die opleiding, behels dit ’n weeklange intensiewe teoretiese en praktiese opleiding. Hommeltuigoperateurs word deeglik in vliegvaardighede sowel as kennis van hommeltuie opgelei. Kandidate skryf vier teoretiese toetse en ’n hooftoets wat hulle met 80% moet slaag. Operateurs kan nie kwalifiseer as hulle nie die praktiese sowel as teoretiese toetse geslaag het nie. Die volgende opleidingsessie is in Junie.

Volgens Deon Steyn, bestuurder van AfriForum se lugsteuneenheid, dra die gebruik van hommeltuie sonder twyfel tot groter gemeenskapsveiligheid by. Die beskikbaarheid van die hommeltuie by AfriForum-takke het ook tot groter samewerking met die SAPD en veiligheidsmaatskappye in gemeenskappe gelei.

Waldie Bornman is die eksterne eksaminator van die kursus.

Steyn sê hommeltuie is al suksesvol gebruik in die opsporing van vermiste persone, menslike oorskot, gesteelde voertuie en ander toerusting. Dit het ook al gelei tot die suksesvolle arrestasie van rowers, inbrekers, kabeldiewe, plaasaanvallers en misdadigers. Dit word ook toenemend ingespan in situasies van onwettige plakkery, optogte en onluste.

Foto’s en video: Reint Dykema

Soortgelyke plasings