|

KYK: INNOVERENDE TEGNOLOGIE INGESPAN OM MISDAAD TE BEKAMP

Deur Marthinus Koekemoer

Die AfriForumBuurtBot, wat aan die begin van die staat van inperking van stapel gestuur is, is nou in die hele noordelike streek inwerking.

Volgens Andries Opperman, provinsiale veiligheidskoördineerder vir AfriForum, is dit ’n waardevolle hulpbron om misdaad te bekamp en om munisipale klagtes te kan pak.

“Die BuurtBot is hoofsaaklik by die Oos Moot-tak in Pretoria ontwikkel en getoets in reaksie op die beperkings wat die inperking op buurtwagte geplaas. Buurtwagte kon nie in die tyd patrollies ry nie en ’n alternatief is gesoek om misdaad te help bekamp.”

Die BuurtBot is soos die naam aandui ’n vorm van “robot” wat help om alledaagse take te verrig. Dit gebruik die Telegram-toep, wat soortgelyk aan Whatsapp is, as platform. Die Bot kan eerstens aangewend word om inligting van mense te bekom en op ’n maklik bruikbare manier deur te gee. Die inligting word in ’n databasis gestoor wat op sy beurt help om misdaadpatrone te identifiseer en dit te help voorkom. Voorts maak die Bot dit makliker om onmiddellik inligting aan buurtwagte of inwonersgroepe deur te gee.  ’n Foto of video van ’n verdagte motor kan byvoorbeeld blitsig versprei word.

Maar die AfriForumBuurtBot gaan ook veel verder. Dit help ook om munisipale klagtes aan te meld en na te gaan. Inligting word met eenvoudige vrae ingesamel.

“Iets wat ons buurtwagte baie help, is dat die Bot ’n elektroniese voorvalboek vir lede skep,” sê Opperman. “Hulle kan hierop aanmeld en voorvalle aanteken en video’s of foto’s by insidente aanheg. Die Bot maak dit ook vir die beheerkamer moontlik om buurtwaglede se bewegings regstreeks te volg. Dit kan van enige rekenaar af gedoen word wat beteken die kontrolleerder hoef nie noodwendig sake uit die beheerkamer dop te hou nie.”

Opperman sê die BuurtBot het ’n belangrike rol gespeel met die opsporing van die driejarige meisie wat tydens ’n motorkaping in Potgietersrus van haar ma geskei is.

Taetse Durand, wat by AfriForum se buurtwag in Oos-Moot ingeskakel is, het die programmering van die Bot behartig. “Die Bot is baie eenvoudig om te gebruik,” sê hy. “As iemand dit nie self kan gebruik nie, kan hy maklik deur ’n demonstrasie touwys gemaak word. Die sekuriteit van die Bot is op dieselfde vlak as die vir internetbankdienste.”

Opperman sê hulle het nog groot planne vir die AfriForumBuurtBot. “Ons wil die gebruik van die Bot landwyd uitbrei. Ons wil dit ook mettertyd gebruik om gesigte, voetspore en dies meer uit te ken.”

Soortgelyke plasings