|

KYK: INWONERS VAN SPRINGS RUK OP OOR SWAK DIENSLEWERING

Deur Marthinus Koekemoer

Lede van AfriForum se Springs-tak en van die Springs Concerned Residence het vanoggend in sowat 40 voertuie na die munisipalekantore op die dorp opgeruk om ’n petisie met meer as 3 000 handtekeninge aan Masele Madihlaba, lid van die burgemeesterskomitee in Ekurhuleni, te oorhandig.

Die petisie beslaan meer as 500 bladsye en sluit onder meer foto’s in van slaggate en straatligte wat nie werk nie.

“Die munisipaliteit gee nie aandag aan ons klagtes nie,” sê Cornel Swart, voorsitter van die Springs-tak. “Hierdie is ons dorp en ons is lief daarvoor.”

Die beswaarde inwoners het omstreeks 10:00 hul vreedsame optog by die Pam Brink-stadion afgeskop. Hierdie stadion was eens die tuiste van die Valke-rugbyspan en die Springbokke het so onlangs as 2002 ’n toets teen Argentinië hier gespeel. Maar die stadion is jare lank nie meer in gebruik nie en is nou ’n bouval wat dalk beter as ’n kraal vir beeste sal dien.

Die optog het ’n kort roete deur die strate van Springs gevolg voor daar by die munisipale kantore stilgehou is. Hier het Madihlaba die petisie ontvang en gesê die munisipaliteit sal hul bes doen om teen 7 Desember, soos in die petisie gevra, terugvoer oor soveel kwessies moontlik te gee wat in die petisie geopper is.

“Die klagtes in die petisie raak verskeie departemente en ons sal ons bes doen om binne die spertyd te doen wat ons kan doen,” sê hy. “Ek moet die mense wat vandag aan die optog deelgeneem het komplimenteer vir die vreedsame wyse waarop dit geskiet het.”

Mike du Toit, president van die Gauteng-Oos Sakekamer, het die petisie voor die munispalekantore voorgelees en uitgelig hoe daar gereeld kragonderbrekings in die dorp is en dat daar ’n algemene bekommernis oor swak dienslewering bestaan. Hy het opgemerk dat daar wel verskeie departemente by die munisipaliteit is wat onder uitdagende omstandighede hul bes doen.

Thapelo Kawa, gemeenskapsleier, het ook sy stem by die van besorgde inwoners gevoeg. “Ons betaal belasting en tariewe, maar kry nie die dienste waarvoor ons betaal nie,” sê hy. “As ons iets by die munisipaliteit aanmeld sê hulle hulle neem kennis van ons klagtes, maar dit vorder nooit verder nie. Genoeg is genoeg.”

Kawa noem dat riool by tye in die strate van Springs vloei en dat dit dikwels dae neem voor enigiets daaraan gedoen word. Hy noem ook dat straatligte soms vir maande lank nie werk nie en misdadigers die geleentheid gee om toe te slaan. “Ek hoop die petisie kan help om plaaslike ondernemings ’n hupstoot te gee.”

Barend van Heerden, die voorsitter van die Springs Concerned Residence, het die munisipaliteit gevra om met ’n aksieplan vorendag te kom om klagtes te pak. “Ons het hulle 30 dae gegee om ’n plan op te stel waarin hulle verduidelik wat gedoen gaan word. Indien hulle dit nie doen nie, sal ons hof toe gaan om die saak verder te vat. Daar is verskeie dienste waarvoor betaal word, wat bloot nie gelewer word nie. Dit kan nie so aangaan nie.”

Soortgelyke plasings