|

Kyk: Kunstenaars opgewonde om musiekblyspel oor Die Gelofte op te voer

Die Gelofte, wat Sarel Cilliers en die Voortrekkers in 1838 voor die gebeure by die Slag van Bloedrivier afgelê het, het ’n paar jaar gelede daartoe gelei dat Johan Vorster en Christoph Kotzé (Appel) ’n lied hieroor getoonset het.

Verlede jaar het Vorster besluit om verder navorsing te doen oor die geskiedkundige gebeure wat die aflê van Die Gelofte voorafgegaan het. Die Gelofte: ’n Musiekblyspel is ’n AfriForum-produksie wat in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied sal word. Dit sal in Mei by AfriForum Teater op die planke wees met bekende kunstenaars soos Vorster, Nadia Beukes, Bernice West en Ilán van Staden.

Teatergangers kan hulself voorberei om werklik elke emosie te beleef.

Die blyspel is deur Vorster en Jannes Erasmus, draaiboekskrywer, geskryf. Erasmus het met die skryf van die blyspel by dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, gaan kers opsteek en heelwat navorsing gedoen oor die gebeure van 1838. “Ons het selfs saam met Danie na die Drakensberge gegaan en hy het ons na elke toneel toe gevat waaroor ek geskryf het. Ek dink dit het ’n groot invloed gehad op die atmosfeer wat ek probeer skep het in die teks.”

Die akteurs in die blyspel is dit eens dat dit emosioneel belaai is en volgens Van Staden, wat die karakter Chris-Jan Cilliers (Sarel Cilliers se seun) vertolk, is die teks so geskryf dat dit jou dwing om alles te voel. “Daar is oomblikke in die musiekblyspel wat jy gaan lê soos jy lag, oomblikke wat jy sidder as jy dink waardeur die mense gegaan het en dan is daar ook bang- en onsekeroomblikke. Teatergangers kan hulself voorberei om werklik elke emosie te beleef.”

Alhoewel die blyspel heelwat emosionele oomblikke bevat, is daar tog ’n moderne aanslag. Al die musiek, buiten twee bestaande liedjies, is spesiaal hiervoor deur Vorster en Jacomien de Villiers geskryf.

Erasmus meen diegene wat van The Greatest Showman of Aladdin gehou het, sal beslis by die musiek aanklank vind. Dit is kommersiële Afrikaanse musiek, maar met ’n klassieke aanslag.

Vorster sê ná die inperkings van die afgelope twee jaar is die kunstenaars werklik opgewonde om weer op die verhoog te wees. “Ons sien ook baie uit om te sien hoe die produksie bymekaarkom. Dit is ’n familiemusiekblyspel en al het dit ’n swaar tema omdat dit oor Die Gelofte en die Slag van Bloedrivier handel, is daar heelwat ligte oomblikke.

“Ek glo dit is belangrik om hierdie storie te vertel, want daar is baie parallelle. Mense het vandag nog dieselfde uitdagings, maar dit is ’n geloofskwessie. Hierdie verhaal herinner dat daar ’n groot God is wat ’n wonderwerk laat plaasvind het ten spyte van ’n oormag wat op daardie stadium teen hulle was,” sê hy.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die organisasie die blyspel laat skryf omdat hedendaagse Afrikaners vandag beslis steeds inspirasie kan put uit die deursettingsvermoë, geloof en roepingsgedrewendheid wat ons voorgeslagte onder uitdagende omstandighede gewys het tydens die aflê van Die Gelofte en die Groot Trek.

“Hierdie inspirasie kan elkeen van ons besiel om vandag met dieselfde ywer te bou aan ’n beter toekoms. Die blyspel leen hom by uitstek daartoe om ’n boodskap van hoop oor te dra, terwyl dit ook die gehoor sal vermaak met puik musiek en puik akteurs,” sê Kriel.

Die Gelofte: ’n Musiekblyspel word van 6 tot 29 Mei 2022 by AfriForum Teater opgevoer. Kaartjies kos R350 en is by https://diegelofte.co.za/ beskikbaar.

Foto’s: Carina Bester en Marthinus Koekemoer
Video: Marthinus Koekemoer

Soortgelyke plasings