|

KYK: NOOD ONDER BEHOEFTIGE MEISIES NOOP #HELPHETTA-PROJEK OM UIT TE BREI

Deur Alet Rademeyer

Solidariteit Helpende Hand het die afgelope sewe jaar sowat 3 000 behoeftige skoolmeisies deur middel van die #HelpHetta-projek gehelp. Dié projek voorsien sanitêre ware en higiëniese produkte aan meisies.

Sedert die COVID-19-pandemie Suid-Afrika tot stilstand geruk het, het die nood onder meisies toegeneem met ’n bykomende 1 432 meisies wat aansoek om hulp gedoen het, maar nie gehelp kon word nie.

Benette Welman, #HelpHetta se projekorganiseerder, sê uit navorsing wat verlede jaar gedoen is, is dit duidelik dat meisies groter behoeftes as net sanitêre produkte het. Hulle het ook behoefte aan motiveringspraatjies, selfverdedigingsklasse en meer inligting oor mishandeling, voorbehoeding en verslawing. “Ons het nodig om ons Hetta-meisies op ’n holistiese vlak te ondersteun – fisies, maar ook emosioneel en geestelik.

Benette Welman, #HelpHetta se projekorganiseerder. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Ons kan dit nie alleen doen nie en nooi vandag die publiek uit om ons te ondersteun met hul gawes en talente sodat ons ’n groter verskil in meisies en gemeenskappe se lewens kan maak.”

Rene Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand, sê die #HelpHetta-projek maak deel uit van die FroueVonds, ’n inisiatief van Helpende Hand. (Die FroueVonds word met opset verkeerd gespel om by sy slagspreuk te pas, naamlik: Want alles loop nie altyd reg nie.) Dié fonds ondersteun Hetta-meisies verder sodra hulle skool verlaat deur rentevrye studielenings beskikbaar te stel, werksgeleenthede te skep en deur hulle te ondersteun en te bemoedig.

Rene Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Ons as vroue het ’n verantwoordelikheid om te help om die volgende generasies vroue toe te rus om sterk te wees en die lewe met selfvertroue aan te pak. Juis daarom fokus Helpende Hand ook op ’n maatskaplik-gebaseerde gemeenskapsontwikkelingsplan om kwesbare gemeenskappe op te hef en te bemagtig. Dit is belangrik dat ons met ander vennote moet hande vat sodat ons saam kan werk ter bevordering van ons vroue se welstand,” sê Roux.

Die sangeres Monique Steyn, ’n #HelpHetta-ambassadeur, het haar steun aan die projek toegesê en bygevoeg dat dit so belangrik is dat ’n helpende hand na meisies uitgereik word wat verward in die lewe is en in moeilike omstandighede grootword.

Die sangeres Monique Steyn, is ’n #HelpHetta-ambassadeur. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Hannie Viljoen, hoof van navorsing by Helpende Hand, sê die meerderheid van meisies (38%) wat deur die #HelpHetta-projek ondersteun word, is nog op laerskool. 73% van die meisies het tussen 11- en 13-jarige ouderdom begin menstrueer en 8% voor 10 jaar. Dit verhoog hul risiko om swanger te word.

Hannie Viljoen, hoof van navorsing by Helpende Hand. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch

Byna 10% van die meisies woon in kinderhuise, 5% in informele nedersettings en 4% in koshuise. Hoewel die staat vroeër R157 miljoen beskikbaar gestel het om gratis sanitêre doekies aan meisies in kwintiel 1 – 3 skole (armstes) beskikbaar te stel, kry 93% van die 107 deelnemende skole slegs Help Hetta-pakkies.

Mense wat graag die projek wil ondersteun of op ander maniere betrokke wil raak, kan die webtuistes www.helphetta.co.za en/of www.frouevonds.co.za besoek.

Donasies kan gemaak word aan:

Solidariteit Helpende Hand

Bank: FNB

Rekeningnommer: 62 331 445 503

Takkode: 250 655

Verwysing: Frouevonds

Bewys van betaling kan gestuur word aan benette@helpendehand.co.za om ’n artikel 18A-sertifikaat te bekom.

Soortgelyke plasings