|

Kyk: NWU-studente stap met louere in Dink of Sink-debatskompetisie weg

In ’n vurige woordestryd het die debatspan van Noordwes-Universiteit (NWU) Saterdag met die louere weggestap in AfriForum se die vyfde onvoorbereide Dink of Sink-debatskompetisie vir universiteitstudente.

Die entoesiasme oor hierdie kompetisie het oor die jare baie toegeneem en deelnemers is dit eens dat dit nie net hul vaardighede slyp om oor interessante en ingewikkelde onderwerpe te debatteer nie, maar dat dit suiwer ook vermaaklik is om mekaar in ’n debat uit te daag.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het agt deelnemende spanne van NWU, die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch, Akademia en De Goede Hoop Koshuis vanjaar in Maart weekliks aanlyn teen mekaar meegeding.  

“Dit was weer eens ’n reusevoorreg vir AfriForum om hierdie kompetisie aan te bied en die spanne se entoesiasme en vaardigheid met woorde in Afrikaans te beleef. Hulle het hulle baie goed van hul taak gekwyt.”

Die tema waaroor die NWU-span en die Studenteplein 1-span van die Universiteit van Stellenbosch (US) mekaar in die finale rondte die stryd aangesê het, het gehandel oor of Britse imperialisme se invloed oorwegend goed of sleg was.

Die NWU-span is verteenwoordig deur Louis Boshoff, Reuben Coetzer, Rian Retief en Jack Coetzer. Die span van Studenteplein 1 het bestaan uit Henri van der Westhuizen, Ernst Pieterse, Milda van Dyk en Adriaan van Wyk.

Jolene Bornman van die span van die Universiteit van Pretoria (UP) het gesê dit is belangrik om van jongs af aan debat deel te neem. “Dit leer ’n mens nie net baie van sekere onderwerpe nie, maar dit is ook groot pret om jou frustrasies te kan lug as jy jou argumente verdedig.”

Chris Briel van die Studenteplein 2-span van US glo weer debat is belangrik sodat ’n mens jouself goed kan uitdruk en in die openbaar kan opstaan vir dit waarin jy glo.

Chris Briel van die Studenteplein 2-span

Daniël Eloff, seremoniemeester tydens die geleentheid, het gesê die gehalte van die debatte was goed en wys dat studente op hul voete kan dink. “Dit is baie belangrik vir hul eie, maar ook die land se toekoms, aangesien hulle die leiers van môre is wat op vele terreine in die toekoms ’n groot impak moet maak. Dit is ook baie bevredigend om te sien hoe goed studente hul saak in Afrikaans kan stel.”

Bailey het gesê sy is bly dat die kompetisie vanjaar grotendeels kon teruggekeer na die formaat van voor 2020 en “ons hoop dat dit teen 2023 net nog sterker en groter sal wees”.

“Dit leer ’n mens nie net baie van sekere onderwerpe nie, maar dit is ook groot pret om jou frustrasies te kan lug as jy jou argumente verdedig.”

Henri van der Westhuizen (Studenteplein 1-span, US) is as die beste spreker aangewys. Die prys vir die beste taalgebruik het gegaan aan Ernst Pieterse (Studenteplein 1-span, US) en dié vir die beste navorsing aan Waldo Pienaar (Studenteplein 2-span, US).

Foto’s en video: Marthinus Koekemoer

Soortgelyke plasings