|

Kyk: Oorwinning in Randfontein-rioolsaak kan as bloudruk vir ander gemeenskappe dien

Die boete van R10 miljoen wat die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit in die Randfontein-streekhof opgelê is, is ’n oorwinning en skep hoop dat meer gemeenskappe hul munisipaliteite in die toekoms strafregtelik verantwoordbaar kan hou.

Matiam van Vuuren het ses jaar gelede in sy persoonlike hoedanigheid strafregtelike klagtes teen die munisipaliteit en sy munisipale bestuurder ingedien oor rioolbesoedeling. Die besoedelingsprobIeme strek sover terug as 2011, terwyl die Departement van Water en Sanitasie toe in gebreke gebly het om toe te sien dat direktiewe wat aan die munisipaliteit uitgereik is, uitgevoer word. In Oktober 2015 was daar twee groot rioolstortings in die Tweelopiespruit. Van Vuuren is tans takvoorsitter van AfriForum.

Themba Goba, geskorste munisipale bestuurder, en die munisipaliteit het nou ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan waarin erken word dat hulle die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur (Nema) oortree het.

Themba Goba, geskorste bestuurder van die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit

Landdros Vivian Hawkins het die ooreenkoms bekragtig en meen die vonnis is regverdig.

Die vonnis behels ’n boete van R10 miljoen waarvan R7 miljoen vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat die munisipaliteit nie aan verdere oortredings skuldig bevind word nie.

Ingevolge die ooreenkoms moet die munisipaliteit die boetegeld van R3 miljoen gebruik vir herstelwerk. Voorts moet bewyse van die herstelwerk aan die Departement van Water en Sanitasie gestuur word. Gekwalifiseerde en ervare prosesbeheerders moet aangestel word soos wat regulasies bepaal sowel as tegnici wat behoorlike instandhouding van die aanleg sal verseker. Die munisipaliteit moet ook behoorlik verslag doen aan die Departement van Water en Sanitasie en 10% van alle munisipale infrastruktuurtoelaes moet vir instandhouing aangewend word.

Van Vuuren meen die uitspraak is ’n oorwinning vir die gemeenskap en dit kan deure open vir ander gemeenskappe om hul munisipaliteite aanspreeklik te hou en tot verantwoording te roep. “Besoedeling is tot nou toe steeds ’n groot probleem en inwoners kla oor rou riool, en selfs gebruikte toiletpapier, wat in spruite en riviere beland. Daar is verskeie plase en laekostebehuising wat ook deur die probleem geraak word,” sê hy.

Stephanus Blignault, Morné Mostert (agter), Corné Cronje, Matiam van Vuuren (voor) en Johan Kruger

Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê die oorwinning moet ook gesien word in die konteks van die Minister van Water en Sanitasie (DWS) se groendruppelverslag wat die departement onlangs uitgereik het. “Dit is ’n eerste sukses met hierdie soort klagtes en is deel van ons strategie om meer munisipaliteite en spesifiek hul bestuurders te dwing om hul werk te doen en te laat besef dat daar gevolge vir wanbestuur en swak diens is.”

Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum

Volgens Mostert is daar tans slegs 2,3% van munisipaliteite in die land wat aan groendruppelstandaarde vir rioolbehandeling voldoen.

Randfontein is een van verskeie dorpe in Suid-Afrika waar munisipale dienslewering byna tot stilstand gekom het. AfriForum en die Mafube Besigheidsforum het ook in April ’n gunstige uitspraak in die Vrystaatse Hooggeregshof gekry wat onder meer die Mafube Plaaslike Munisipaliteit dwing om ’n finansiële herstelplan in Frankfort te implementeer en om besoedeling van die Vaal- en Wilgerivier te staak.

AfriForum het in Hertzogville soortgelyke klagtes by die SAPD ingedien oor gebrekkige dienslewering in die dorp. Hier moes ’n plaaslike boer meer as twintig siek diere laat uitsit weens riool wat op ’n gereelde basis deur sy plaas vloei.

Soortgelyke plasings