|

KYK: SKONER UITSIG VIR N2-PADVERBRUIKERS NÁ PONGOLA-TAK INGRYP

Die Britse oudpremier, Margaret Thatcher, het eens gesê dat sy eerste minister geword het, met die doel om Brittanje van ’n afhanklike na ’n selfstandige samelewing en van “’n gee-dit-vir-my-“ na ’n “doen-dit-self-nasie” te verander.

In die gees hiervan, gryp AfriForum-takke en gemeenskappe self regoor die land in om staatsverval en swak dienslewering aan bande te lê.

Pongola is een van talle dorpe waar AfriForum-taklede, besighede én inwoners hande vat en dikwels hul naweke prysgee om hul dorpe op te knap.

Die Pongola-tak het onlangs ’n skoonmaakprojek gehou langs die N2-pad wat deur die dorp loop. AfriForum-lede, vrywilligers en verskeie ondernemings in die gemeenskap het gehelp om bome en struike te snoei en rommel op te tel. Tydens die aksie is sowat 32 vragte tuinafval en 56 sakke rommel met drie trekkers en sleepwaens verwyder.

“Die doel van die skoonmaakprojek was om self in te spring en te veg teen ons dorp se agteruitgang. Baie vakansiegangers gebruik hierdie roete en dit is vir ons as inwoners van Pongola belangrik dat die dorp netjies is en ’n goeie indruk skep,” sê Alton Vlok, voorsitter van AfriForum se Pongola-tak.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Noord-Natal, is deel van AfriForum se veg-en-bou-strategie dat gemeenskappe die staat verantwoordbaar hou om hul pligte na te kom, maar ter selfde tyd nie te skroom om self in te gryp en ’n verskil te maak nie.

AfriForum se Pongola-tak het lede en ondernemings bedank wat daartoe bygedra het om hierdie projek ’n sukses te maak.

Soortgelyke plasings