|

KYK: Vanjaar se #Ankerdorppadskou-hoogtepunte

Lede van plaaslike AfriForum-takke en vrywilligers het die afgelope paar maande in agt dorpe en stede gespit en gegrawe, gras gesny, tuin gemaak, vullissakke met rommel gevul en stop- en padtekens geverf wat nuwe lewe aan hul omgewings gegee het.

AfriForum se #AnkerdorpPadskou-projek was ’n reusesukses wat hoop geskep en gemeenskappe nader aan mekaar gebring het.

Van ons hoogtepunte het die volgende ingesluit:

  • In Pretoria het personeellede van AfriForum se hoofkantoor Bothalaan in Centurion en ’n massiewe veld op die hoek van De Villebois Mareuilrylaan en Delmasweg in Moreletapark skoongemaak en opgeknap. Sowat 350 sakke vullis is tydens die aksies verwyder.
  • In Rustenburg is ongeveer 500 sakkies teer aangekoop om slaggate te vul. Die plaaslike tak het ook op vir die inwoners van die munisipale woonstelle in Kerkstraat partytjie gehou en herstelwerk aan die woonstelle gedoen.
  • In George is die eerste Quo Vadis?-gesprekreeks aangebied asook verskeie teenboeliegersprekreekse. AfriVriendelik het ook ’n sakeontbyt aangebied met die oud-rugbyspeler en entrepreneur Kobus Wiese as gasspreker.
  • Verder het die Nelspruit-tak, in samewerking met verskeie plaaslike besighede, ’n selfdoenaksie by die Pro Gratia-leersentrum vir spesiale onderrigbehoeftes gehou. Dié skool ontvang geen subsidiëring van die regering nie en is afhanklik van hul beperkte skoolfondse en die hulp organisasies soos AfriForum en die plaaslike gemeenskap om aan te hou groei.
  • AfriForum se Tzaneen-tak het besluit om ’n volhoubaarheidsprojek in dié dorp van stapel te stuur waar hulle verskeie straatname op randstene geverf het. Hulle het verder ook saam met lede van Tzaneen-wildbewaring die Fanie Botha-dam skoongemaak as deel van ’n omgewingsbewaringsaksie.
  • In Krugersdorp is die gebied rondom die Paul Kruger-monument skoongemaak, sodat dit weer netjies vertoon en die gemeenskap dit veilig kan besoek. Die burgerregte-organisasie het ook 30 bome by die Friends of Rescued Animals (Fora), wat skuiling vir sowat 350 honde en 150 katte bied, geplant.
  • In Secunda het die tak amberbome, Vanwykshoutbome en witstinkhoutbome by nagenoeg 14 skole geplant en ook ’n reuseskoonmaakaksie by die groen strook oorkant die klein Pick n Pay gehou.
  • In Bethlehem is ‘n instandhoudingsprojek by die Bethlehem Museum aangepak deur die vensterrame van die museum en waenhuis af te skuur en te behandel. Die Bethlehem-tak het ook ’n skenking aan die museum gemaak. Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, het tydens die Quo Vadis?-gesprek met Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, en Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, by die museum oor veiligheid gesels.

AfriForum gaan weer volgende jaar hierdie suksesvolle projek aanpak.

 

Soortgelyke plasings