|

Kyk (Video): Derby-Lewis: “My verhoor voor die WVK was ʼn sirkus”

Sy verskyning voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) was ʼn skouspel en absolute sirkus. Die hele proses was net ʼn geleentheid vir die ANC om presies te wys hoe hulle die opposisie kan hanteer.

Só verduidelik wyle Clive Derby-Lewis, veroordeelde moordenaar, sy arrestasie en verskyning voor die WVK in die tweede deel van die Derby-Lewis Disclosure-onderhoud met Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films.

Volgens Roets is dié eksklusiewe onderhoud, wat in September 2016 verfilm is, die enigste onderhoud wat Derby-Lewis sedert sy vrylating op mediese parool in Junie 2015 toegestaan het. Dit is oorspronklik verfilm met die idee om ’n dokumentêr oor die WVK te vervaardig.
Dit was ook Derby-Lewis se laaste onderhoud voor sy dood.

In dié aflewering, wat vandag op Forum Films se webtuiste gepubliseer is, praat Derby-Lewis omvattend oor die moord op Chris Hani, SAKP-leier, sy (Derby-Lewis) se arrestasie en sy verskyning voor die WVK.

Derby-Lewis het aangevoer dat sy verskyning in ʼn kruisverhoor ontaard het. Hy meen dat sy verhoor onregverdig was omdat die paneel nie die land se demografie verteenwoordig het, soos die WVK vereis het nie.

“Dit was nie veronderstel om ʼn kruisverhoor te wees nie. Dit was nie veronderstel om Afrikaners te viktimiseer nie. Helaas is dit presies wat gebeur het.”
Derby-Lewis vergelyk sy eie verhoor voor die WVK met dié van ’n aantal ANC-gesinde oortreders, wat baie ligter daarvan afgekom het.

Derby-Lewis vertel van ene Phama, wat saam met hom in die tronk was, wat wel amnestie gekry het ondanks die feit dat hy 15 ondersteuners van die IVP geskiet het terwyl hul op pad was na ʼn versoeningsvergadering met die ANC. Phama ook ʼn verkeersbeampte se dood veroorsaak.

Volgens Roets wys dié deel van die onderhoud die paradoksale aard van Derby-Lewis se lewe. “Hy praat in uitgebreide terme oor die oortreding wat hy self gepleeg het, maar onmiddellik daarna blyk dit duidelik dat hy ook ’n slagoffer was van die dubbele standaarde wat deur die WVK se amnestie- komitee toegepas is.”

Die volledige onderhoud is sowat 70 minute lank en in vier aflewerings opgedeel.

Die eerste deel, wat oor die ANC/SAKP-, KP/NP-politiek en die referendum van 1992 handel, is gister op Forum Films se webtuiste gepubliseer. Die derde deel volg môre.

Soortgelyke plasings