|

Kyk (Video): Derby-Lewis oor die lewe na sy vrylating

Suid-Afrika is besig om stadig maar seker te vergaan meen die veroordeelde moordenaar Clive Derby-Lewis.

In die finale aflewering van Ernst Roets, uitvoerende hoof van Forum Films, se eksklusiewe onderhoud met Derby-Lewis, gesels hy oor die lewe na sy vrylating en deel hy sy mening oor ʼn post-apartheid Suid-Afrika.

Derby-Lewis, ’n voormalige Suid-Afrikaanse parlementslid, eers vir die Nasionale Party en toe vir die Konserwatiewe Party, is in 1993 tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens sy aandeel in die sluipmoord op Chris Hani, SAKP-leier.

Roets verduidelik dat dié eksklusiewe onderhoud oorspronklik verfilm is met die idee om ’n dokumentêr oor die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) te vervaardig. Ná Derby-Lewis se dood het Forum Films egter besluit om eerder die volledige onderhoud te publiseer.

Derby-Lewis vertel in die finale aflewering dat die bewerings dat oudpresident Thabo Mbeki betrokke was by die moord op Hani, heeltemal vals is. “Ek het vir hulle gesê ek sal nooit met Mbeki praat nie, want hy is van die ANC en die ANC is my vyand.”

Hy vertel ook hy het verskeie kere die afgelope dekade probeer om Hani se weduwee, Limpho, te ontmoet, maar sy het egter geweier.

Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika volgens hom agteruitgegaan het sedert hy tronk toe gestuur is. Hy is in 1993 met FW de Klerk as president tronk toe en 22 jaar later vrygelaat in ʼn land waar Jacob Zuma aan bewind is.

Hy het afgesluit en vertel dat sy grootste wens was dat sy paroolvoorwaardes verander moet word sodat hy Sondae kerk toe kan gaan. Dit het egter nie gebeur nie.
Al vier dele van die Derby-Lewis Disclosure-onderhoud is op Forum Films se webtuiste beskikbaar.

Soortgelyke plasings