|

KYK: VRYHEID-GEMEENSKAPSENTRUM BIED NOU ÓÓK GESONDHEIDSDIENSTE AAN

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die AfriForum-gemeenskapsentrum in Vryheid is nou ’n gesondheidsentrum ryker nadat ’n barmhartige dermatoloog sy dienste vrywillig aan dié gemeenskap beskikbaar gestel het.

Dié sentrum, wat in samewerking met Helpende Hand gestig is, het die middelpunt van gemeenskapsgedrewe aksies in Vryheid geword sedert sy deure in 2017 geopen is. Die takbesture van beide organisasies is baie aktief in die Vryheid-gemeenskap en daarom het die behoefte ontstaan om hul kragte saam te snoer deur ’n dubbeldoelige gemeenskapsentrum op die been te bring.

Gemeenskapsdienste wat vanuit die sentrum bedryf word, sluit onder meer maatskaplike en veiligheidsdienste, ’n noodwaterpunt en nou ook dié nuwe gesondheidsentrum in.  ’n Oogkundige en tandarts het kort na die dermatoloog ook hul tyd en geriewe gratis aan die gemeenskap beskikbaar gestel en ’n algemene praktisyn (GP) gaan binnekort by hulle aansluit.

Volgens André van der Walt, voorsitter van die AfriForum-tak in Vryheid, het die Durban-gebaseerde dermatoloog, wat verkies om nie sy naam te noem nie, na die gemeenskap uitgereik omdat hy graag inwoners wou bystaan wat nie die nodige mediese sorg kan bekostig nie. “Pasiënte met velsiektes word gratis by die gesondheidsentrum deur ’n verpleegsuster ondersoek. Sy neem ’n hoё definisie foto en video met ’n spesiale kamera van byvoorbeeld ’n wond of aangetaste vel. Die beeldmateriaal word na die dokter gestuur waarna hy die probleem diagnoseer en behandeling voorstel. Indien nodig word ’n verdere diagnose vir die persoon gedoen en die dokter opereer ook gratis aan pasiënte. ’n Keuringsproses word egter eers gevolg,” verduidelik Van der Walt.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal, is die gemeenskapsentrum ’n voorbeeld van wat ’n gemeenskap kan vermag wanneer hul besluit om hul toekoms in hul eie hande te neem. “Die gemeenskapsentrum moet gesien word as ’n samebindende faktor vir die Vryheid-gemeenskap, waar ieder en elk eienaarskap van hul omgewing, veiligheid en gesondheid kan neem.”

AfriForum se Kempton Park-tak het vanjaar ’n soortgelyke inisiatief begin en ’n mobiele gesondheidsentrum geopen. Die sentrum lewer basiese dienste soos om pasiënte se bloeddruk te neem en cholesterol- en bloedsuikervlakke te toets. ’n Span verpleegsusters wat oor jare se ervaring beskik, bied hul dienste vrywillig aan. Aptekers en dokters het ook reeds aangedui dat hulle betrokke wil raak en van hul tyd en geriewe beskikbaar sal stel.

Soortgelyke plasings